GEORGE NUUS - Die historiese tolhuis in die Montagupas gaan oop bly. Weliswaar nie meer elke dag nie, maar darem Saterdae en Sondae.
Die besluit is laat Maandagmiddag, 15 Januarie, tydens 'n komiteevergadering van die Vriende van die Tolhuis geneem. Die organisasie sien om na die belange van die tolhuis.
Die goeie nuus is Dinsdag 16 Januarie deur Ken Gie, waarnemende voorsitter van die organisasie, bekendgemaak.
Vrae oor die toekoms van die tolhuis het in Desember ontstaan en daar is selfs gespekuleer dat dit kan sluit.
Die gebou is meer as 170 jaar oud. Vriende van die Tolhuis is in 2009 gestig onder die dryfkrag van Gerda Stols en haar man, Johan.
Restourasie het in 2009 begin en is in 2014 voltooi. In Oktober 2018 is dit grotendeels in 'n brand verwoes, maar weer daarna herstel. Dit het oor die jare 'n gewilde toeriste-trekpleister geword.
Die tydelike sluiting van die Montagupas is as een van die groot redes aangevoer waarom besoekersgetalle verlede jaar kwaai gedaal het.
Gie het aan George Herald gesê al die opsies, waaronder moontlike sluiting, is tydens Maandag se vergadering bespreek. Uiteindelik is eenparig besluit dat die tolhuis voortaan op Saterdae en Sondae oop sal wees van 08:00 tot 14:00.
Die nuwe reëlings is reeds van toepassing die komende naweek.
Rondom die datums van die George-oumotorskou in Februarie en Paasnaweek sal gekyk word of dit nie vir ekstra dae kan oopbly nie.
Die tolhuis is steeds oop vir die aanbied van funksies, maar belangstellendes moet betyds reëlings tref.
Gie het die besluit verwelkom. Volgens hom is dit een van George se grootste toeriste-trekpleisters.
Hy het gesê die tolhuis het 'n baie goeie seisoen beleef en sowat 10 vrywilligers het ook na vore gekom en hulp aangebied toe dit bekend geword het dat die tolhuis dalk sy deure sal moet sluit.
Hy het mense genooi om steeds betrokke te raak. Elke individu bring bepaalde vaardighede.
Die oop bly van die tolhuis beteken dat die drie permanente werknemers hulle werk kan behou en steeds 'n rol kan speel in die bewaring van erfenis.
Gie het benadruk dat die tolhuis bestaan danksy die hulp van vrywilligers en donasies van die publiek. "Die tolhuis kan volhoubaar bedryf word as daar vrywilligers is."
Die oogmerk is nie wins nie. Dit is 'n nie-winsgewende organisasie en geld wat ingevorder word deur byvoorbeeld verkoop van pannekoek en koffie word gebruik vir instandhouding van die tolhuis en die betaal van salarisse.
Gie het gesê die tolhuis het in die verlede 'n belangrike aandeel gehad in die vestiging van 'n vervoerstelsel vir die Suid-Kaap.
Die jongste besluit beteken dat die nalatenskap van Gerda Stols nou verseker is. Sy was die dryfkrag om die tolhuis te restoureer en na die 2018 brand te herbou.
Mense wat wil help kan Gie bel by 083 631 9648 of 'n e-pos stuur na giekenneth1@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’