TUINROETE NUUS - Tieners verkeer onder geweldige druk en aanmeldings van selfbesering en selfdoodneigings neem toe.
So sê Natasha Uys, 'n geregistreerde voorligtingsielkundige by die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), wat ook 'n deeltydse privaat praktyk het.
"Ons verleen psigososiale ondersteuning aan skole en werk op 'n gereelde basis met leerders wat hoërisiko gedrag openbaar. Verskeie programme en intervensies help ons om voorkomend op te tree. Elke skool het 'n skoolgebaseerde ondersteuningspan (SGOS) wat risikoleerders onmiddellik aanmeld sodat hulle so vinnig moontlik die ondersteuning kan ontvang wat hulle benodig."
Volgens Uys val kinders tussen die ouderdom van nege en 18 jaar in 'n hoë risikogroep vir selfdood.
"Op ontwikkelingsvlak is tieners op 'n baie sensitiewe fase in hulle lewe waar hormonale veranderinge, asook die ontwikkeling van 'n eie identiteit, faktore is wat 'n rol speel in hoe tieners hulle leefwêreld ervaar. Tieners beleef hulle emosies baie intens en glo dikwels daar is geen oplossing vir hulle probleme nie," sê sy.
"Enige verwysing of dreigement van selfdood of selfbesering moet met erns, sensitiwiteit en omsigtigheid hanteer word. Daar word dikwels gesê dat wanneer 'n tiener met selfdood dreig, dit 'n manier is om aandag te soek. Dis egter baie belangrik dat enige vorm van selfdoodgedagtes by 'n tiener in 'n ernstige lig gesien moet word. Dit is 'n uitroep om hulp."
Kan depressie veroorsaak dat tieners selfdood oorweeg?
"Ja, depressie of depressiewe gemoedstoornis is een van die moontlike oorsake van tienerselfdood. Dit is dalk veiliger om daarna as "risikogedrag" te verwys. Daar is verskeie moontlike oorsake soos byvoorbeeld middelmisbruik, trauma (seksuele misbruik, verwerping deur persone naby hulle, verlies), boeliegedrag en verskeie ander geestestoestande.
Navorsing het getoon dat trauma 'n groot impak op die funksionering van die brein uitoefen, wat 'n chemiese wanbalans teweegbring wat weer kan lei tot risikogedrag soos selfdoodneigings."
Wat plaas druk op tieners?
"Die Covid-19-pandemie het bykomende uitdagings geskep waar daar meer druk op ouers, kinders en die samelewing in die geheel geplaas word.
Tieners verkeer onder geweldige druk en ervaar dit op verskeie vlakke, insluitend:
- akademies,
- portuurgroepverhoudings,
- emosioneel,
- die gemeenskap,
- ouers,
- finansies,
- gebrek aan ondersteuningsisteme,
- sosiale media en nog vele meer.
Wenke aan ouers en voogde
- Hou oop gesprekke met jou kind.
- Weet wie is jou kind se vriende. Nooi hulle na jou huis toe.
- Weet wat in jou kind se betrokkenheid met sosiale media gebeur.
- Leer jou kind vaardighede aan, byvoorbeeld hoe om boeliegedrag te hanteer.
- Moenie druk op jou kind plaas nie en aanvaar jou kind onvoorwaardelik.
Waarna moet ouers/voogde/vriende/onderwysers oplet?
"Met ons gr. 12-program is daar onder meer gefokus op die welstand van leerders en het leerders wat uitdagings het 'n geleentheid gehad om met die psigososiale span, wat 'n maatskaplike werker en sielkundige insluit, te gesels. Sodoende is verskeie risikoleerders ondersteun en word die klem op voorkoming geplaas. Opvoeders speel 'n belangrike rol in tieners se lewens en is dikwels die eerste skakel in die ondersteuningsproses wat volg."
Ouers/voogde/vriende en opvoeders moet op die uitkyk wees vir die volgende gevaartekens:
- Slaappatroon verander: slaap meer of minder.
- Eetpatroon verander: eet meer of minder.
- Min energie en neem nie meer deel aan stokperdjies of oefening nie.
- Kom lusteloos voor.
- Afname in konsentrasie.
- Toon 'n gebrek aan belangstelling vir iets wat hulle voorheen geniet het, byvoorbeeld sport.
- Isoleer hulself en onttrek op sosiale gebied.
- Verswakking in akademiese prestasie.
- Verandering van gedrag.
Indien jy bekommerd is oor 'n maat/geliefde moet jy hulp soek. Klop hier aan:
- Selfdoodkrisislyn 0800 567 567
- Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) 0800 456 789
- Veilige Skole (WKOD) 0800 45 46 47
- Plaaslike klinieke, hospitale, maatskaplike organisasies en skole kan ook genader word.
"Ons kinders is ons grootste en kosbaarste besitting," sê Uys. "Ons moet hulle soos goud oppas. Daar is altyd hoop en hulp beskikbaar. 'n Hele gemeenskap se hulp is nodig om tienerselfdood te voorkom."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'