Gallery
GEORGE NUUS - Die soptannies van 125 sopkombuise oor die George munisipale area is Dinsdagoggend met 'n spesiale ete en sertifikate van waardering vereer vir hul harde werk en toewyding deur die jaar.
Die funksie is aangebied deur George-munisipaliteit by die Lawaaikamp-gemeenskap-sentrum en die ete is geborg deur EBK Distributors.
Sewe kerse is uitgedeel aan die familie van afgestorwenes wat baie nou bande met die munisipale sopkombuisprojek gehad het. Sommige is weens Covid-19 oorlede. Hulle is Willem Scheepers, Georgina Baninzi, Juliette Carolus, Regina Mashaba, Marie Esau, Sanna Torney en pastoor Calvin Mooi.
"Dit wat die tannies doen is 'n belegging in daai kinders se lewe," het onderburgemeester Raybin Figland tydens sy hoofrede gesê. "Hulle dra by tot die opvoeding van ons toekomstige leiers. Die goeie werk wat hulle doen bring seëninge vir hulle families en generasies. Dit is nie altyd 'n maklike taak nie, maar ons waardeer dit uit ons harte."
Raadslid Brendon Adams het gesê dit is 'n eer om die tannies en ooms te bedank vir wat hulle alles vir die gemeenskappe se kinders doen. "Hul gee hul eie tyd en dikwels eie fondse vir hierdie liefdesprojek," het hy gesê.
Drie sopkombuistannies van Thembalethu: Klossie Mgongotha (sone 3), Remona Tom en Elizabeth Dolomba van sone 6.
Apostel Charlotte Roberts van die Higher Dimension Church in Pacaltsdorp was die motiveringspreker vir die geleentheid: "Hulle is deur God gekies om 'n sekere funksie in die gemeenskappe te verrig en 'n verskil te maak. Dit is 'n gawe," het sy gesê.
'n Soptannie van sone 6 in Themba-lethu, Remona Tom, het gesê dit is vir haar lekker om 'n bietjie uit te kom: "Dit laat jou goed voel oor jouself. Alles wat ons doen, doen ons uit liefde."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'