GEORGE NUUS - 'n Skrywer van Wilderness, wat vanjaar die publikasie van haar eerste digbundel en roman vier, wil mishandelde vroue en kinders help.
Schönrad (Shona) Stander is 'n ambassadeur vir die SOS Women and Children Foundation, 'n Christelike nie-winsgewende organisasie wat die belange van getraumatiseerde vroue en kinders op die hart dra. Sy wil dié organisasie in die Tuinroete bekendstel en 'n deel van haar boekverkope aan die stigting skenk.
Shona se digbundel, Granaat en roman, Tinka se reis na Parys word op Saterdag 26 Desember (09:00) by Milkwood Village in Wilderness tydens 'n feestelike geleentheid, gratis aan die publiek, bekendgestel.
Tydens dieselfde geleentheid gaan twee ander skrywers wat ook op hul beurt bydraes van hul boekverkope aan die stigting skenk, hul boeke ten toon stel. Dr. Tros Bekker (Covid Pandemic: Worldwide Crisis Conspiracy) en pastoor Desmond Wessels (Gedagte van die dag) is beide ambassadeurs van die SOS Women and Children Foundation. Marlé Bruyns, 'n bekende sangeres, gaan by die geleentheid op tree.
Shona Stander, regs, se digbundel, Granaat en roman, Tinka se reis na Parys, tesame met die boeke van Dr Tros Bekker (Covid Pandemic: Worldwide Crisis Conspiracy) en pastoor Desmond Wessels (Gedagte van die dag) word op Saterdag 26 Desember (09:00) by Milkwood Village bekendgestel.
Meer oor Shona
Shona het 'n deel van haar grootwordjare in Tsitsikamma spandeer. Haar pa, Hennie Stander, was in die bosboubedryf en verbonde aan die destydse Saasveld Kollege. Shona se ma, Rina Stander, het na hul aftrede in Wilderness vir agt jaar as raadslid in die 1990's gedien.
Shona het aan Universiteit Stellenbosch onder groot literêre geeste soos Lina Spies, WEG Louw en Joan Hambidge studeer, waarna sy in haar loopbaan as onderwyser onder meer by Hoërskool George, Hoërskool Outeniqua en York High skoolgehou het.
Sy het later reis en skoolhou gekombineer en haar ervaringe in 'n swart notaboekie, wat altyd in haar rugsak was, neergepen. Haar oorsese reise het in Iran begin en in Taiwan geëindig.
"Hoe meer volksvreemd die kulture, hoe meer verrykend en interessanter die belewenisse." Só beskryf Shona haar lewensfilosofie.
Ofskoon Shone deur die jare artikels aan tydskrifte gestuur het, het sy vanjaar tydens grendeltyd vir die eerste keer ernstig begin skryf. Haar digbundel, Granaat handel oor mense en die verskillende fasette van die lewe. Ses van haar gedigte is getoonset en word deur die musiek legende, Clive Bruce, gesing. Shona se roman, Tinka se reis na Parys weerspieël haar passie vir dié Franse stad - een van die plekke wat sy tydens haar reise besoek het.
Dit is 'n heerlike ligte roman vol kwinkslae, dramas en natuurlik romanse.
Lees meer oor die SOS Women and Children Foundation aanlyn by www.georgeherald.com. Vir enige navrae stuur 'n e-pos aan soswomanchildren-founda@gmail.com.
Die SOS Women and Children Foundation help mishandelde vroue en kinders soos volg:
1) Mishandelde vroue en kinders word dadelik uit hulle omstandighede geneem en in 'n plek van veiligheid geplaas. Die stigting help hulle om werk te kry, maar maak steeds seker die kinders is veilig wanneer hul ma's werk.
2) Die stigting verskaf kos en ander benodighede vir die tydperk wat hulle onder hul sorg is en help ook met huurbetalings waar hulle geplaas word.
3) Die stigting bring die mishandeling onder die aandag van die owerhede en volg dit op.
4) Verder word die mishandelaar se werk gekontak en gevra dat hulle teen hom optree.
5) Die stigting se missie is om mishandelde vroue en kinders na Jesus te lei: "Want Hy sal hulle help".
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'