GEORGE NUUS - Pryse wat verlede week op 'n veiling vir nege erwe in Fancourt Hop Gardens betaal is, het alle verwagtings oortref.
Die erwe, wat aan Fancourt behoort het, het 'n gemiddelde prys van R936 000 (BTW uitgesluit) behaal.
Afslaer Louis van Rensburg van Van Rensburgs Veilings sê hy was verras. "Dis rekordpryse vir 'n gewone dorpsgebied. Ek het tussen R500 000 en R700 000 per erf verwag."
Die duurste erf het R1 325 000 behaal en die goedkoopste het gegaan vir R800 000 (BTW uitgesluit).
"Ek tree van 1985 af op as afslaer vir Van Rensburgs Veilings en het letterlik duisende eiendomme per openbare veiling verkoop. In 90% van die veilings kon ek vooraf binne 10% van die finale bodprys skat. Hierdie keer was my skatting te laag. Dit wys dat die eiendomsmark in George vuurwarm is."
Die erwe is almal groter a 1 000 vierkante meter en is geleë in Soeteweidestraat, Blanco.
"Die Fancourt Hop Gardens-woongebied is in 1971 geproklameer en die hoogste pryse behaal in 1985 toe dit vir die eerste keer bemark is, was R30 000 per erf," het Van Rensburg gesê.
Dit was oorspronklik bedoel vir behuising vir Fancourt-personeel, maar Fancourt het destyds slegs op ses van die erwe gebou. Die oorblywende nege is Vrydag verkoop.
Van Rensburg het die veiling op 'n ongewone manier gedoen deurdat al die bieërs elke keer op al die erwe kon bie. Die hoogste bieër kon dan kies watter erf uit die oorblywende erwe hy of sy wou hê.
Vorige Artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'