GEORGE NUUS - Die OCC-reëlingskomitee het verlede Woensdag, 8 November, vergader en reëlings vir die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) 2024 is op koers. Die wedren vind op 24 Februarie plaas.
Alewijn Dippenaar, organiseerder van die geleentheid het by navraag gesê die George-munisipaliteit is weer aan boord as die hoofborg.
Daar is ook ander borge wat ondersteuning bied en sluit in Parmalat, die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport, department van die premier en talle privaat sektor borge.
Daar is ook nog goeie nuus want die Wes-Kaapse premierskantoor het aangedui dat hulle die geleentheid finansieel gaan ondersteun.
Inskrywings het op 1 Oktober geopen en sluit op 2 Februarie. Teen Dinsdag is reeds meer as 60 inskrywings ontvang. Dieselfde roete as in 2019 gaan gevolg word en dit sal die derde keer by Carpe Diem skool plaasvind.
Aanstaande jaar se geleentheid gaan anders wees en meer besonderhede sal later bekendgemaak word.
Die plan is om ander sportkodes by te voeg. Wat reeds bevestig is, is liggaamsbou en Cross Fit. Die kaskarafdeling vir sakeondernemings was 'n groot sukses in 2022 en sal weer gehou word in 2024. Altesaam 10 sakeondernemings het reeds ingeskryf.
Na verwagting sal 800 mense aan die OCC-wedren deelneem. Dit sluit in Namibië, Ghana, Zimbabwe en al die nege provinsies.
Daar is twee afdelings naamlik parapleeg en kwadrupleeg. Drie tipe rolstoele word gebruik naamlik wedrenstoele, handfietse en standaard rolstoele (Dit word slegs in die 5 km-pretrit toegelaat). Daar word deelgeneem in ongeveer 23 sub-afdelings afhangende van die vlak van gestremdheid. In 2022 was daar byvoorbeeld in die 42,2 km-afdeling ses goue wenners. Twee afdelings was dames en vier was mans.
Benodig vrywilligers
Mense kan betrokke raak as vrywilligers om Vrydag 23 Februarie vanaf 08:00 tot 18:00 te help met die voorbereiding van die terreine, en die registrasie van atlete.
Vrywilligers is ook nodig vanaf 18:00 tot 20:00 vir hulp met bediening van aandete. Saterdag 06:00 tot 12:00 vir die stoot van atlete in die 5 km-pretrit, as beamptes op kruisings en by die venue.
Saterdag van 12:00 tot 14:00 kan hulle help met die bediening van middagete en van 14:00 tot 17:00 help met die afslaan van toerusting op die terrein en algemene skoonmaak van area.
Mense wat betrokke wil raak kan Shaun Butler by 083 701 8387 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’