GEORGE NUUS - Die Powervan se bestuurder, Charl Marais, het saam met 'n span werkers korte mette gemaak van rommel en lang gras wat die roete van die Outeniqua Powervan deur die dorp ontsier het.
"Toeriste ry elke dag op hierdie spoorlyn. Hulle eerste en laaste indrukke is deur die woonbuurt en dis nie baie goed nie, want ons ry verby 'n area wat vol vullis lê," het Marais gesê.
Die werkers het Saterdag 2 Maart ingespring en ongeveer 50 sakke vullis rondom die spoorlyn tussen die Transnet-vervoermuseum en die Tuinroete Botaniese Tuine opgetel.
Lang gras is vroeër in die week gesny om die spoorlyn oop te maak.
"Ons wil ons inwoners uitdaag om te fokus op ons skoon, mooi dorp. Ons sal in die toekoms weer so maak, maar ons hoop inwoners het ook 'n hart om George skoon te hou," het Marais gesê.
Die George-munisipaliteit het die Powervan se pogings in 'n verklaring geloof en by monde van Joan Shaw, toerismebestuurder, gesê hulle is baie beïndruk.
"Powervan se inisiatief moet geloof word en ons daag ander instellings in George uit om hulle voorbeeld te volg.
"As enigiemand help om die gedeelte rondom hulle besigheid of aktiwiteit skoon te maak, is ons halfpad om die geveg teen onwettige storting te wen," het Shaw gesê.
Netheid wat 'n goeie indruk onder toeriste sal skep wat die Powervan-rit onderneem.
Vullis wat onwettig gestort word, kan aangemeld word by Wetstoepassing by 044 801 6350 of sprins@george.gov.za.
As 'n klaer name, voertuigregistrasie-besonderhede of adresse van beweerde oortreders het wat onwettig stort en bereid is om 'n verklaring af te lê in hierdie verband, kan hulle Wetstoepassing kontak.
'n Foto van die oortreder is nie nodig nie, maar sal die saak versterk vir 'n waarskuwing of boete om uitgereik te word.
Omtrent 50 sakke vullis is opgetel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’