Breaking News
GEORGE NUUS - Gemeenskappe al langs Beachweg in Pacaltsdorp, en vanaf Parkdene in Nelson Mandela-boulevard, maak reg om vanoggend aan ‘n protesoptog deel te neem. Volgens ‘n gemeenskapsleier van New Dawn Park, Elandré Lamini, is inwoners ontevrede oor swak dienslewering wat hulle van die Go George-busdiens ontvang.
Mawande Qhange, woordvoerder van die taxivereniging, Codeta, het bevestig dat hulle ook aan die optog deelneem. Hulle is ongelukkig oor die algemene dienslewering en die Go George-busdiens. Kommentaar van die busdiens word afgewag.
Na verwagting sal die betogers in die rigting van George-munisipaliteit beweeg waar hulle ‘n memorandum met hul griewe wil oorhandig.
Volgens Lamini is die gemeenskappe keelvol daarvoor dat die busse nie op die geskeduleerde tye opdaag nie, en dat ‘n mens nie meer met kontant vir ‘n rit kan betaal nie. “Dan is daar ook nog mense wat agter in ‘n woonbuurt woon, wat in die nagdonker moet terugstap huis toe,” het hy gesê.
“Ons mense verloor hulle werk omdat hulle laat kom. As jy jou buskaartjie verloor het, dan is jy gestrand. Ons het die reg op ‘n keuse. Ons wil graag die Go George-busse hê, maar ons wil ook die taxi’s terug hê,” het hy gesê.
Volgens Lamini word New Dawn Park en die res van Pacaltsdorp veral geraak, omdat hulle ten volle van die Go George-busse afhanklik is.
Aangesien die busdiens nog nie in Thembalethu ontplooi is nie en steeds van taxi’s gebruik maak, het inwoners in gemeenskappe wat op daardie roetes woon langs Nelson Mandela-boulevard, soos Conville, Rosemoor en Parkdene, steeds die opsie tussen die gewone taxi’s en die Go George-busse.
Voertuie van die openbare orde polisiëringseenheid staan gereed vir aksie in ‘n parkeerarea langs die George-munisipaliteit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'