GEORGE NUUS - Wanneer die witmalgasse begin broei by Malgaseiland in Saldanhabaai en Voëleiland in Lambertsbaai, maak Zanri Strydom, 'n doktorale student aan die Nelson Mandela Universiteit se George-kampus, gereed vir haar volgende besoek.
Zanri en haar man, Tiaan, woon in Victoriabaai, en haar passie is seevoëls.
"Ek gaan elke broeiseisoen na die eilande toe vir my navorsing, so ons gaan elke jaar. Andersins besoek ek die eilande tydens werksgeleenthede wanneer ek kontrakwerk doen," het sy vertel tydens 'n gesprek oor haar navorsing.
Zanri doen haar doktorsgraad in natuurbewaring en spesialiseer in seevoëls, spesifiek die Witmalgas, wat as 'n bedreigde spesie geklassifiseer is. Die witmalgas se populasie is besig om af te neem, en die spesie broei tans slegs op ses eilande ter wêreld.
Haar passie vir seevoëls het eers in 2015 begin toe Zanri as liefdadigheidswerker begin het by die seevoëlrehabilitasie-sentrum in Mosselbaai.
"Dis daar wat ek eerstehands gesien het hoe swaar seevoëls kry in terme van siektes en beserings wat hulle in die see opdoen," het sy gesê.
"Ek onthou spesifiek die stryd met een pikkewyn wat in plastiek verstrengel was en toe intussen op die strand só swak geraak het dat die pikkewyn weens swakheid nie op sy voete kon staan nie."
Zanri het intussen al by elke seevoëlrehabilitasiesentrum in die land gaan uithelp om soveel spesies moontlik te kan help in tyd van nood. Terwyl die Strydoms navorsing op die eilande doen, tree Zanri op as ‘n "first responder" wat die beseerde voëls stabiliseer en voed totdat daar weer ‘n boot na die eiland kom om die voëls na die seevoëlhospitaal SANCCOB in Kaapstad te neem.
"Ek vind soveel vreugde daarin om die gerehabiliteerde voëls vry te laat in die natuur. My werk is so bevredigend," het sy gesê.
Zanri Strydom gesels oor die witmalgas:
Daar is baie verskillende bedreigings wat die witmalgasse in die gesig staar, soos byvoorbeeld 'n afname in sardyn en ansjovis, siektes, verandering in seisoenale weerpatrone, rommel soos plastiek wat hulle insluk of in verstrengel raak, oliestortings in die see, predasie op die kuikens en volwassenes.
Nie net is dié voëlspesie ‘n baie mooi voël nie, maar hulle dien ook ‘n belangrike rol in die ekosisteem. Meer spesifiek, die witmalgas se mis speel ‘n groot rol in die verreiking van die ekosisteem in en om die seewaters van Lambertsbaai.
Die mis van die duisende voëls op dié eiland dra baie nutriënte toe tot die water, en daardie nutriënte verbeter dan fitoplankton en alge populasies in die omliggende waters. Die toename in dié kossoorte kan tot die vis- en mosselgetalle laat toeneem waardeur nie net ander diere, maar ook mense dan finansiële voordeel trek.
Ek en my man, Tiaan, het onlangs op Malgaseiland in Saldanhabaai en Voëleiland in Lambertsbaai GPS (Global Positioning System) toestelle op witmalgasse se rug vasgemaak sodat ek kan vasstel waar die voëls gaan kos soek. Die GPS bly op die rug van die malgas vir slegs een geleentheid voordat ons die toestel verwyder.
Die toestel produseer ‘n kaart sodat die voël se visvangroete gevisualiseer word op die rekenaar. Dié navorsing is uiters belangrik om die witmalgasse teen uitsterwing te bewaar omdat ons dan kan vasstel waar om potensiële marine-bewaringsgebiede te skep.
Dié bewaringsgebiede help ten einde om die vispopulasie te bewaar en dit help dan die malgasse bewaar teen uitsterwing.
Bewaring van die visspesies dien nie net as kos aan die ouers nie, maar ook aan die kuikens wat genoeg kos kort om die broeiseisoen so suksesvol moontlik te maak. Sommige van my studievoëls het 600 km heen en weer gevlieg om genoeg kos te vind vir hul kuikens. Die wollerige kuikens wag bedags in hul nes totdat die ouer terug kom met kos dan bedel die kuiken baie knaend by die ouer vir kos. Die kuiken druk dan sy bek in die ouer se bek in waartydens die kos van die ouer se krop tot in die kuiken s’n oorgeplaas word.
Dis eers op die ouderdom van 17 weke wat die kuiken reg is om die nes te verlaat, nadat die kuiken waterdigte vere ontwikkel het. Ek streef daarna om die vispopulasie te bewaar sodat daar ten einde genoeg kos nie net vir volwassenes is nie, maar ook vir hul kuikens wat begin leer hoe om self kos te gaan vang.
Al die navorsing is onderdanig aan die verwante etiese klaring en navorsingspermitte.
Zanri en Tiaan weeg 'n volwasse witmalgas by Malgaseiland.
Zanri Strydom
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'