GEORGE NUUS - Ouma Katy se eensame graf in Memoriumstraat-begraafplaas kry uiteindelik 'n grafsteen. Vir 43 jaar was haar graf ongemerk.
Niemand wat daar verbygeloop het, het geweet dat die klein lappie grond tussen twee aangrensende grafstene die oorskot bevat van Catherina Elizabeth Christina Roberts (gebore Matthee) nie.
Die saak is egter nou reggestel, danksy haar kleinseun, Eugéne Barnard van Pretoria, en die samewerking van George-munisipaliteit se departement van gemeenskapsdienste.
Catherina, beter bekend as Katy, het as 'n twintigjarige plaasnooi van Heidelberg, in 1921 met Adam Johannes Barnard van George getrou. Sy het 'n jaar later tweelingdogters, Maggie en Joey, gebaar en in 1923, geboorte gegee aan 'n seun. Hy is na sy oupa, Theunis Johannes Barnard, vernoem. Die paartjie se tweede seun, Johannes Petrus is in 1927 gebore.
Katy se pa, Robert (JPR) Matthee is volgens mondelinge oorvertelling in ongeveer 1860 op 'n skip gebore wat in die omgewing van Witsand gestrand het. Die kind se ma is blykbaar op die skip dood en die pa kon nie die kind versorg nie. Die baba is toe deur 'n Matthee-egpaar aangeneem. Klein Robert Matthee het uiteindelik 'n boer geword. Katy was sy en Johanna se tiende kind.
Katy het na haar man se dood in 1940, met Jan Botha, 'n bosbouer van Kaapstad getrou. Die gesin het na sy aftrede in Hoopstraat gewoon, nie ver van die einste begraafplaas nie. Hul enigste seun, Fonnie (Fondeling Johannes) Botha was jare lank verbonde aan die plaaslike landdroskantore en is verlede jaar oorlede.
Katy het enkele jare voor haar dood in 1978, met ene Hendrik Roberts getrou. Die feit dat geen grafsteen opgerig is nie, het onlangs eers onder die kleinkinders se aandag gekom toe oorlede Katy se kleinseun, Eugéne, sy voorsate begin navors het.
Eugéne het in Mei 2021 die George-munisipaliteit om hulp genader om die ongemerkte graf in Memoriumstraat se begraafplaas uit te ken. Hilton Spies, superintendent: parke en ontspanning, het alles ingespan om die grafnommer op te spoor en die planuitleg van die begraafplaas in die museum te vind. Plaaslike grafsteenmakers het toe die grafsteen opgerig.
"Uiteindelik, na 43 jaar, is die leë graf met 'n grafsteen versier en is ouma Katy se waardigheid herstel. Die familie bedank graag Hilton en sy span vir hul onbaatsugtige hulp," sê Eugéne.
Hy en sy kinders, afstammelinge van Theunis Johannes Barnard, Katy se oudste seun, het die graf tydens die Kersvakansie besoek om eer te betoon aan 'n merkwaardige vrou en liefdevolle ouma.
Verdere inligting
Eugéne sal inligting waardeer omtrent sy oupa, Adam Johannes Barnard (1898 - 1940), sy oupagrootjie, Theunis Johannes Barnard (1867 - 1936), beide in die lewe van George, en sy oupagrootjie, Johannes Petrus Robert Matthee (1860 - 1948) van Heidelberg.
Kontak hom by 082 452 1612 en mafutha@mweb.co.za
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'