GEORGE NUUS - Die waenhuisie wat die Vriende van die Tolhuis voor die brande verlede jaar opgerig het vir toilette en as stoorplek vir die perdekar, word deesdae oopgebreek en die pannekoekgereedskap wat daar geberg word, word gesteel.
"Ons het nou die afgelope drie weke heelwat verliese gely en uiteindelik het die polisie baie duidelike vingerafdrukke teen die oopgebreekte ruite gekry. Ons hoop om spoedig van die gesteelde goedere terug te kry. Dit sluit in ons vyf-liter emaljeketel en 'n paar waardevolle vertoonartikels wat ons uit die afgebrande tolhuis kon red," sê Gerda Stols, die dryfveer agter die restourasieproses van die tolhuis.
"Gelukkig het die gawe mnr. Gerhard Klopper van Kloppers die gasbrander en bottel vir ons vervang sodat ons kan voortgaan met die pannekoek en koffie elke Saterdag tussen 09:00 en 13:00."
Die Donkiekar-boereorkes het 'n gratis Nuwejaarskonsert by die Tolhuis vir die vriende gehou en die geselligheid het 'n mooi bedrag ingesamel.
Planne vir dak vorder
Planne om die dak so spoedig moontlik op te sit, vorder goed. 'n Kundige se dienste word nog benodig.
Gerda Stols (voor) en ander mense wat die konsert van die Donkiekar-boereorkes by die Tolhuis geniet het.
Die afgelope naweek het die vriende gesellig by die Tolhuis verkeer en 'n rit onderneem op die nuwe perdekar wat eersdaags in werking sal wees. "Die 'perd' was hierdie keer net 'n bakkie, maar ons hoop om binnekort die ware Jakob, oftewel vir Christel, soos die merrie bekendstaan, in te span," sê Stols.
Besoekers van oral het die Tolhuis gedurende die vakansie besoek en daar was die meeste tye pannekoek en koffie danksy 'n paar vrywilligers wat diens gedoen en die gaste verwelkom het.
'n Pragtige klavier wat die Vriende van die Tolhuis reeds as geskenk ontvang het vir die toekomstige gerestoureerde Tolhuis.
Die Vriende van die Tolhuis toets die nuwe perdekar uit.
Read previous articles:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'