Update
GEORGE NUUS - Daar vind volgende week 'n tugverhoor by Hoërskool Outeniqua plaas oor beweringe van "huffing" by die skool. Dit is 'n praktyk waar leerlinge chemikalieë soos gom of butaangas inasem.
Van die skool se rugbyspelers was na bewering onlangs tydens 'n rugbytoernooi in Kimberley daarby betrokke. Dit is na bewering ook onder meer deur van die spelers in hul koshuis in George gedoen.
Die beweringe is in 'n dagblad gemaak nadat 'n ouer van die skool 'n brief daaroor geskryf het. Die George Herald het ook verlede week daaroor berig.
Millicent Merton, WKOD-woordvoerder, het vandeesweek gesê die ondersoek na die aangeleentheid vorder goed. Die ondersoekbeampte het sy werk afgehandel.
Volgens haar is vier leerders betrokke by die beweerde insident. 'n Tugverhoor sal volgende week gehou word.
Die skoolbestuur het besluit om 'n bewusmakingsprogram oor die gevare van "huffing" of "zoom" in die derde kwartaal van stapel te stuur. Uit die ondersoek wat by die skool gedoen is, blyk dit nie dat dit 'n groot tendens is nie. Die bewusmakingsprogram het ten doel om leerders bewus te maak van die gevare met die hoop dat dit hulle moontlik sal afskrik.
Geen verband tussen 'huffing' en sportprestasie
'n Woordvoerder van die South African Institute for Drug-Free Sport (Saids) het gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die spesifieke beweringe nie. In die algemeen is dit so dat mense dinge sal inasem (huffing) vir verskillende redes wat nie noodwendig met sport verband hou nie.
Daar is 'n lys van verbode middels en dit hang af van wat iemand inasem. Daar is nie noodwendig 'n verband tussen "huffing" en verbeterde sportprestasie nie.
Brenda Pienaar, 'n maatskaplike werker en 'n vorige direkteur van Sanca, (South African National Council on Alcoholism and Drug Dependence) het gesê sy dra nie kennis van die spesifieke beweringe by Outeniqua nie.
As sy weet wat die kinders na bewering ingeasem het, sou dit makliker gewees het om 'n mening te lug.
Sy het gesê in die verlede het kinders gom ingeasem.
Dit sou nie noodwendig lei tot verbeterde sportprestasie nie. Trouens dit kon die teenoorgestelde uitwerking hê.
Deesdae is daar egter ander goed wat mense inasem. 'n Stimulant sal deesdae iemand kon help om beter te presteer op sportgebied.
Volgens haar moet ouers wat sekerheid wil hê en wil weet wat aan die gang is, bloedtoetse op hul kinders laat doen.
Lees 'n vorige artikel: Topskool ondersoek 'huffing' gerugte
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'