Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As Corné Brink, die nuwe bestuurder van die Tuinroete Botaniese Tuin, haar sin kry sal daar groter gemeenskapsbetrokkenheid wees by die gewilde plek in George.
Brink het onlangs die leisels oorgeneem en is dadelik aan die diep kant ingegooi. Weens die inperkingsmaatreëls kon besoekers vir 'n paar maande nie die tuin besoek nie.
Dit is eers in Junie vir lede en in Augustus vir gewone besoekers oopgestel. Sy en haar span is nou volstoom aan die werk om die tuin uit te brei.
Brink is in Johannesburg gebore en het grootgeword in Hong Kong as gevolg van haar pa se werk. As kind reeds was haar belangstellingsveld die kuns en wetenskap. In 2015 het sy na Suid-Afrika teruggekeer en verder in die rigting van natuurbewaring gestudeer. Sy het begin in KwaZulu-Natal met 'n kursus by die Field Guide Association.
Daarna het sy na Kaapstad verhuis waar sy by Sanccob gewerk het met die rehabilitasie van pikkewyne en ander seevoëls.
Sy het in 2017 ingeskryf vir 'n kursus in natuurbewaring by NMMU in George. Een van haar studierigtings was plantkunde en sy het haar prakties in 2019 by die Tuinroete Botaniese Tuin gedoen. Sy is later aangestel as die bestuurder van die kwekery.
Corné Brink, die nuwe bestuurder van die Tuinroete Botaniese Tuin en personeel besig om plante in die tuin van naderby te bekyk. Foto: Eugene Gunning
Brink gesels graag oor die Tuinroete Botaniese Tuin en die moontlikhede wat dit het. Verskeie dinge is in die pyplyn en afgelope Sondag, 11 Oktober, is nasionale tuindag die eerste keer daar gevier. Dit is moontlik dat dit 'n jaarlikse instelling by die tuin kan word.
Sy glo die tuin kan ontwikkel as die bewaringsentrum van die Tuinroete. "Die fondasie is reeds daar. Dit moet net benut word." Daar is unieke plant- en dierelewe.
Mense en instansies moet betrokke wees sodat meer besoekers gelok kan word. Om dit reg te kry is dit onder meer moontlik dat toegangsgeld op sekere dae net die helfte sal wees en op twee voorafbepaalde dae, sal toegang gratis wees.
Kyk 'n video hieronder:
Van die uitbreidings wat beplan word is dat die Mushroom Meander by die inheemse woud meer rolstoel vriendelik gemaak sal word. Daar is ook planne om nog 'n gedeelte van die Witfontein-plantasie oor te neem en te bestuur as 'n natuurreservaat.
Volgens haar gaan dit 'n groot uitdaging wees. "Ons gaan die betrokkenheid van die gemeenskap, alle belanghebbendes en organisasies nodig hê vir die rehabilitasie en herstel van die plantasie om dit 'n sukses te maak."
Volgens haar het Covid-19 wel 'n nadelige impak gehad op hul werksaamhede. Omdat geen besoekers vir 'n paar maande toegelaat is nie, was daar geen hekinkomste. Hulle is baie afhanklik van bydraes van die publiek en mense kan aansluit as lede.
The newly appointed manager of the Garden Route Botanical Garden, Corné Brink, faces unprecedented challenges due to months of lockdown. A number of projects are in the pipeline to attract more community involvement and income.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'