GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Wolvengat, 'n gehuggie in die Overberg, is op 'n staptog van sowat 18 000 km deur Afrika tot by die mees noordelike punt van Europa - Nordkapp in Noorweë.
Mark Mitchell het Maandag 28 Augustus 'n draai in George gemaak.
Sy doel is om bewusmaking te skep oor klimaatsverandering en finansiering te kry vir die plant van ten minste 7,2 biljoen bome en struike deur middel van die SA Reforestation Trust asook Jobs4Carbon, 'n spekboomprojek in Van Wyksdorp.
Wanneer hy in Noorweë aankom, wil hy ook 'n spekboompie (Portulacaria Afra) oorhandig aan die botaniese tuine van Oslo in Noorweë.
Mitchell droom al vir langer as 50 jaar om so 'n epiese tog aan te pak. "En nou kan ek uiteindelik een van my grootste begeertes bewaarheid. Dis so half my persoonlike Camino," het hy aan George Herald gesê.
Hy het reeds meer as 330 km voltooi toe hy Calitzdorp bereik nadat hy eers kuslangs gestap en by Agulhas aangedoen het. Hy het nie spesiaal vir die tog geoefen nie, so sy voete het op 'n stadium begin protesteer. "Maar nou raak hulle gewoond aan die stappery en ek het al klaar die winterspekkies afgewerk," lag hy.
Mark was Maandag in George om 'n borgskap te ontvang. Foto: Alida de Beer
Mitchell het 'n trekwaentjie wat hy self ontwerp en gebou het om al sy benodigdhede met hom saam te trek. Hy het vroeg op sy staptog besef hy sal ligter moet reis en van omtrent die helfte van sy bagasie in die waentjie ontslae geraak. Hy hou op die agterpaaie en grondpaaie langs en kamp die meeste van die tyd, baie keer sommer langs die pad.
"Die natuur is asemrowend. Ek sien die wêreld op 'n stappas en dis 'n intense ervaring van die omgewing, die veldblomme se kleure, en die oopheid van die lug. Dis onbeskryflik.
"Sedert ek begin stap het, het ek besef dat 'n mens nie ver vooruit kan beplan nie, want jou planne werk nie altyd uit nie. Dit is in elk geval maar my ervaring van hoe 'n reis plaasvind - hy het 'n wil van sy eie. Ek wou eers direk na Sutherland en dan via Fraserburg noordwaarts stap, maar is ek uiteindelik deur Agulhas, Malgas, Heidelberg en die Gysmanshoekpas na Van Wyksdorp om Jobs4Carbon te besoek. Ek het al 'n breë spektrum mense langs die pad ontmoet en word goed ontvang."
Mark gesels met vriendelike mense langs die pad.
Hy beoog om teen Vrydag 1 September in Prins Albert te arriveer en vandaar deur Prieska na Botswana te stap. Sy beplande roete is deur Oos-Afrika tot in die noorde van die kontinent, dan deur Israel, Jordanië, Irak, Iran en noordwaarts deur Rusland tot in Noorweë.
Mitchell was Maandag in George om 'n borgskap te ontvang. Dinsdag het hy sy staptog van Calitzdorp af hervat.
Mense wat meer wil lees oor sy ervarings en sy vordering wil dophou of bome wil borg, kan sy webwerf besoek by thegreattrek.co.za.
Kampering in die veld.
Tydens 'n besoek aan Jobs4Carbon in Van Wyksdorp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’