Update
GEORGE NUUS - Verskeie protesaksies, sommige uiters geweldadig, het landswyd op Afrika-dag, Dinsdag 25 Mei, plaasgevind, en George is nie gespaar nie.
'n Protesoptog teen die Go George-busdiens deur verskeie gemeenskappe in Pacaltsdorp en langs Nelson Mandela-boulevard het egter vreedsaam verloop, maar erge ontwrigting veroorsaak, veral in die middedorp. Die taxivereniging Codeta het ook die aksie ondersteun.
In 'n verrassende wending het lede van die Khoi-gemeenskap hulle by die verrigtinge geskaar, maar met 'n fokus op Afrika-dag en die uitbuiting van inheemse volke deur wit "setlaars".
Terwyl daar op 'n tweede groep protesgangers voor die siviele departement gewag is, het lede van die Khoi-gemeenskap die kans benut om hul eie boodskap oor te dra. Met 'n luidspreker in die hand, geklee in 'n tradisionele vel-uitrusting, het /asab (westerse naam: Stanton Joubert), 'n Khoisan-leier van New Dawn Park, die publiek toegespreek terwyl hy kruie gebrand het.
Op 'n vraag of hulle ontevredenheid ook met die busdiens iets te doen het, het /asab en sy vriende geantwoord dat hulle protes eintlik alles insluit: "Die optog is soos 'n blessing, want ons wou juis iets vir die African liberation doen."
"Ons is hier!" Betogers en taxi's van Codeta maak hulself hoorbaar in Yorkstraat Dinsdagmiddag.
Soek taxi's ook
Terug by die aanvanklike rede vir die protesoptog het 'n gemeenskapsleier van New Dawn Park, Elandré Lamini, verduidelik dat gemeenskappe keelvol is daarvoor dat die busse glo nie op geskeduleerde tye opdaag nie, en dat passasiers nie met kontant vir 'n rit kan betaal nie: "Dan is daar ook nog mense wat agter in 'n woonbuurt woon, wat in die nagdonker moet terugstap huis toe."
"Ons mense verloor hulle werk omdat hulle laat kom. As jy jou buskaartjie verloor het, dan is jy gestrand. Ons het die reg op 'n keuse. Ons wil graag die Go George-busse hê, maar ons wil ook die taxi's terug hê," het hy gesê.
Volgens Lamini word New Dawn Park en die res van Pacaltsdorp veral geraak, omdat hulle ten volle van die Go George-busse afhanklik is.
Khoisan-rookgoed het gesorg vir 'n Afrika-gevoel voor die siviele departement.
Vier memo's
Burgemeester Leon van Wyk was merkbaar verbaas toe vier memorandums - die een na die ander - te voorskyn kom vir die ondertekening skuins voor 14:00 Dinsdagmiddag. Die gemeenskapsleiers het twee memorandums oorhandig - een oor beweerde swak dienslewering van die busdiens, sowel as ander kwessies soos die dorp se begroting, die geïntegreerde ontwikkelingsplan en sekere korrupsiesake.
Die ander memorandum sluit in klagtes oor die Rosemoor dienssentrum vir bejaardes, wat ook aan die provinsiale departement van sosiale ontwikkeling gerig is.
Codeta het twee memorandums van hul eie by die hopie gesit. Hulle versoek onder meer vryheid van beweging op hul taxiroetes.
Betogers het na burgemeester Van Wyk as hul 'pa' verwys, en gevra dat hy na hulle sal omsien as sy kinders. Ofskoon Van Wyk aanvanklik 72 uur kans gegee is vir terugvoer, is die tydperk op mondelingse versoek verkort na minder as 'n dag.
Thando Geya (links), sekretaris van Codeta George, wag vir burgemeester Leon van Wyk (regs) om die memorandums te teken.
Wettig
Munisipale woordvoerder Chantel Edwards-Klose, het bevestig dat die munisipale aansoek vir die protesoptog die regte proses gevolg het. "Die redes vir die optog is by die betrokke vergaderings as gemeenskaps- en sakegriewe ingedien," het sy gesê.
Khoisan-leier /asab (westerse naam: Stanton Joubert) het die publiek voor die siviele departement in Yorkstraat toegespreek. Hy sou later die dag 'n vlug na Johannesburg haal om aan die protes by die Uniegebou deel te neem.
Foto's: Michelle Pienaar
Vorige artikels:
- Opvolg: Betogers versterk hul getalle
- Afrikadag-kwessies deel van protestoptog
- Protesaksie wettig, memorandum word afgewag
- Planne in plek vir betoging vandag
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'