GEORGE NUUS - In 'n verrassende wending het twee Icosa PR-raadslede plekke geruil. Theresa Fortuin, wat dié party in die Garden Route-distriksmunisipaliteit se raad verteenwoordig het, skuif na die George-raad in die plek van Wilbur Harris.
Harris skuif op sy beurt na die Garden Route-raad. Icosa se nasionale woordvoerder, Dawid Kamfer, het vanmiddag die nuus gedeel.
"Ons is baie opgewonde oor die skuif," het hy gesê.
"Dit is gedoen met die oog op beide die komende tussenverkiesings sowel as die plaaslike verkiesing van 2021. Beide Fortuin en Harris is in hul noppies met die verwikkelinge," het hy gesê.
Volgens Kamfer is al die papierwerk gedoen en die munisipale bestuurders dra reeds kennis van die besluit. "Ons het vandag alles ingedien. Nou wag ons net vir die OVK (onafhanklike verkiesingskommissie) om die skuiwe amptelik te maak," het Kamfer gesê.
Op 'n vraag of Icosa die spesiale raadsvergadering vir die George-raad môreoggend gaan bywoon, en watter een van die raadslede die party gaan verteenwoordig, het Kamfer gesê hulle sal waarskynlik nie môre deel van die vergadering wees nie.
Wilbur Harris skuif op sy beurt na die Garden Route-raad.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'