GEORGE NUUS - Hibernia Primêre Skool is geskok oor die skielike heengaan van een van hul geliefde oudkollegas, Abraham (Awie/Awietjie) Jacobs.
Jacobs (63) het op Donderdag 29 April in die Mediclinic George beswyk nadat hy vir die tweede keer binne twee weke weens geelsug opgeneem is.
Sy vrou, Elizabeth, het hom op 4 April verlede jaar ontval ná 'n stryd teen kanker. Jacobs het sy skoolopleiding by St Mary's Primêr ontvang waarna hy aan die Hoërskool George gematrikuleer het.
Hierna het hy as opvoeder aan die destydse Opleidingskollege Suid-Kaapland (OKSK) in Oudtshoorn gekwalifiseer. Jacobs het geglo in lewenslange leer en in April 2009 verwerf hy die B.Ed.-graad aan die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth.
Hy was 'n lojale 'Vollie'. Hy het sy eerste onderwyspos in Januarie 1985 by Hibernia (VGK) Primêr begin waar hy in Desember 2018 ná 33 jaar uit die diens getree het.
"Ek het groot agting en respek vir mnr. Jacobs gehad vir sy lojaliteit, pligsgetrouheid en respek vir mense, hetsy vir leerders, ouers, personeel of die algemene publiek. Menige oudleerders het geskakel om hul meegevoel te betuig vir hierdie formidabele 'meester' wat 'n hoë premie geplaas het op sy leerders se vordering," het die skoolhoof, Wilbur Pedro gesê.
Jacobs het die vakke wiskunde, aardrykskunde en ekonomiese bestuurwetenskappe gegee. "Sy nagedagtenis sal bly voortleef as rugbyafrigter met die lyfband in die hand en das om die nek wanneer hy veral voorspelers gedwing het om behoorlik in te klim in 'n losgemaal."
Jacobs laat sy enigste dogter, Candice na, asook sy broers en susters.
Sy begrafnisdiens vind plaas op Saterdag 8 Mei om 11:00 by die huis en om 12:00 in die VGK George in Canarystraat, Rosemoor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'