GEORGE NUUS - Die Good-party betwis die uitslag van die George-tussenverkiesings wat op 19 Julie in wyke 16, 20 en 27 gehou is.
Dié party het gister, 23 Julie, 'n beswaar by die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) ingedien.
Van die beweerde onreëlmatighede waaroor Good beswaar maak, sluit in die OVK se versuim om drastiese toenames in die aantal "geskikte" kiesers op te spoor en te ondersoek, en hoë getalle kiesers wat by enkele adresse geregistreer is - 188 kiesers by een adres en 61 by 'n ander.
Luidens ‘n verklaring deur die Good-party vandag, 24 Julie, het hul beswaar beëdigde verklarings ingesluit wat deur DA-lede onderteken is. “Die lede het erken dat hulle R300 per dag betaal is om kiesers van Thembalethu (waar ’n tussenverkiesing nie gehou is nie) valslik te registreer by adresse in wyke waar tussenverkiesings wel plaasvind. Die hergeregistreerde Thembalethu-kiesers is gelys as woonagtig by die werfkeurders se adres,” lui die verklaring.
Good reken die OVK moes nie toegelaat het dat die verkiesing voortgaan nie. Hulle vereis nou dat die OVK die tussenverkiesings ter syde stel of die uitslae wysig deur alle kiesers wat onregmatig in die kieserslys vir Wyke 16, 20 en 27 ingesluit is, te verwyder.
DA se provinsiale leier, Tertuis Simmers, het by navraag gesê die 188 kiesers waarna Good verwys is eerstens nie nuwe kiesers nie: “Hulle was reeds geregistreer vir die 2021-verkiesing, sommige glo deur Good self. Tweedens is hierdie kiesers almal heel moontlik mense wat in ‘n informele nedersetting bly, en is ‘n hele area dus as een erf deur die OVK sisteem geregistreer wat op geokodering werk. Of die OVK se sisteem se geokodering dalk verkeerde koördinate gebruik het, moet met hulle opgeneem word, want dis hulle sisteem. Die beweerde 188 kiesers, waarvan van hulle al vir amper 25 jaar as kiesers in Pacaltsdorp geregistreer is, dui dus ook aan dat Good en die PA se bewerings ongegrond is dat hul nuwe geregistreerde kiesers is.”
Terugvoer van die OVK word afgewag.
Verwante artikels:
- Good boos oor tussenverkiesings, gaan aksie neem
- Opvolg: Good wend hul na die kieshof oor beweerde kieserregistrasiebedrog
- DA wil fokus op tussenverkiesing
- Good beskuldig DA van kiesersbedrog in Borcherds, George
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’