GEORGE NUUS - Die kitsvloede van Maandag 22 November het nie net mense in en om George gestrand gelaat nie, maar ook die diere. Die Tuinroete DBV moes behoorlik bontstaan om diere en hul eienaars te hulp te snel toe die gietende reën lewens begin bedreig het.
Buiten talle honde en katte wat hulle na veiligheid gebring het, het hulle ook 'n goudvis, wat in iemand se tuin rondgeswem het, gered.
"Hulle sê dit reën katte en honde. Wel, Maandag het dit visse ook gereën," sê senior inspekteur by die DBV. "Iemand in die omgewing se visdam het seker gebars of oorgeloop. Ons het 'n hele paar oproepe ontvang oor visse wat in tuine swem."
Verder het hulle ook vir Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) bygestaan toe dié organisasie se kat-afdeling besig was om te verspoel. Van die katte is oorgevat na die DBV en is versorg. Enigiemand wat graag 'n finansiële bydrae, kos, katsand of komberse wil skenk, is welkom om die DBV te kontak.
Fotogalery: DBV het met die harde reën hul hande vol gehad
Een van die talle honde wat in veilige bewaring by die DBV geplaas is.
Diere is ook uit Hoop- en Merrimanstrate gered. Een persoon se kat het ongelukkig verdrink en haar hond is ook vermis.
"Al ons inspekteure was Maandag besig in alle areas van George en ons het probeer om oral sigbaar te wees. Altesame het ons sowat 40 of 50 diere gered waarvan Odin se katte 'n groot deel was," sê Bruyns.
Amber du Preez van die Tuinroete-DBV besig om van Odin se katte in vervoerhokke te sit om na die DBV te neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'