GEORGE NUUS - Onwettige storting is enige iets wat jy weggooi in ‘n plek waar dit nie hoort nie, maar storting is almal se probleem. As jy jou gemors sommer enige plek weggooi sal dit uiteindelik op een of ander manier jou probleem word.
Rommel kan jou siek- of doodmaak
• Daar is baie keer gif, ou medisyne, gebreekte glas en ander gevaarlike items in gestorte rommel wat veral vir kinders en diere ’n gevaar inhou.
• Gemors wat in die son lê ontwikkel giftige gasse en bakterieë wat siektes en infeksies kan veroorsaak.
• Rommel lok slange en skerpioene wat kan byt of steek, en rotte en insekte wat gevaarlike siektes aan mense kan oordra.
• Rommel wat in of naby riviere gegooi word, laat skadelike stowwe in die water vry wat mense en diere stroomaf dodelik siek kan maak.
Dit kan brande veroorsaak
• Rommel wat in die son bak kan so warm word dat dit ’n brand kan veroorsaak en die brand kan dan na nabygeleë huise versprei. Die rook en gasdampe wat van sulke vure afkomstig is kan skadelik of selfs dodelik wees.
Dit kan stank veroorsaak
• Goed wat in riooldreine gegooi word - of verkeerde goed wat in toilette afgespoel word - sal die dreinpype verstop en die riool sal in jou woongebied oorloop en ’n slegte stank nalaat.
Dit kan verspoelings veroorsaak
• Gemors wat in stormwaterdreine gegooi word, verstop die pype en reënwater sal dan in die gebied se strate en in eiendomme vloei.
Onwettige storting kos geld
• Die skoonmaak van onwettige stortingsterreine is ’n vermorsing van geld wat vir ander dinge in jou gemeenskap gebruik kon word.
Stortingsterreine bring die waarde van jou eiendom af
As jy eiendom naby onwettige stortingsterreine besit, sal dit moeiliker wees om dit te verkoop en sal die waarde van die eiendom verminder.
Jy kan tronk toe gaan
• As jy gevang word vir onwettige storting of selfs die strooi van rommel, kan jy ‘n boete opgelê word. Indien jy nie die boete kan betaal nie, kan jy tronk toe gaan. Daar word oorweeg om versteekte kameras aan te bring om mense te vang wat in die nag onwettig rommel stort.
Jy kan 'n verskil maak
Moenie rommel strooi nie
• Hou jou kospakkies, sigaretstompies en ander gemors by jou totdat jy by ‘n vullisdrom kom of hou dit tot by die huis waar jy kan weggooi.
Hou jou vullis by die huis tot opteldag
• Vullis word een keer per week in jou woonbuurt opgetel (sien skedule hieronder).
• Plaas asseblief jou vullis in vullissakke en hou die sakke by jou huis tot en met opteldag.
• Plaas tuinafval in groen sakke sodat dit afsonderlike opgetel kan word vir komposmaking.
• Plaas vullissakke op die sypaadjie buite jou huis teen 07.30vm op opteldag.
• Moenie jou sakke die aand voor die tyd uitsit nie, dit sal verhoed dat dit oornag stukkend geskeur word.
Vind jou optelpunt
• As jy in ‘n gebied bly waar vullistrokke te groot is om tot by jou huis te ry, vind uit by jou raadslid of die gemeenskap waar die naaste optelpunt is. Op opteldag ry bakkies in hierdie gebiede in en tel by hierdie punte op.
• Indien daar nie ‘n optelpunt binne redelike loopafstand van jou woonplek is nie, vra jou raadslid om by omgewingsdienste vir so ‘n plek aan te vra.
Maak dit toe
• Probeer om jou vol vullissakke in iets met ‘n deksel of ‘n sterk kartonboks, houtboks of baksteenstruktuur toe te maak om slegte reuke in te hou en diere uit te hou.
Maak ‘n plan met die groot goed
• Boumateriaal en items wat nie in swart sakke pas nie, moet na die munisipale stortingsterrein op die R102 (lughawepad) geneem word. Reël met vriende of bure om julle groot goed saam in een rit te neem.
Dooie diere
• Moet asseblief nie dooie diere saam met vullissakke uitsit of iewers gaan weggooi nie.
• Die Tuinroete DBV sal teen ’n fooi, die karkas optel en op die korrekte manier daarvan ontslae raak. Skakel 044 878 1990.
• Meld dooie diere op die N2 by Sanral aan by 082 553 4878.
Rapporteer onwettige storting
• Indien jy weet wie onwettig stort, rapporteer hulle by 044 801 6350 of sprins@george.gov.za of 044 801 6300 (n/u).
• Inligting wat die saak vir ‘n waarskuwing of boete sal versterk: beskrywing van die voertuig en/of registrasienommer, adres van die beweerde oortreder, tipe afval wat gestort is en waar dit gestort is. ‘n Selfoonfoto van die storting in aksie sal baie help, maar is nie noodsaaklik nie.
• Meld plekke aan waar daar onwettig gestort is, by 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
Opteldae vir vullissakke
MAANDAG:
Blanco, Riverlea, Heatherpark, Heatherlands, Glen Barrie, Kraaibosch, Groenkloof, Blue Mountain Village, Heroldsbaai, Victoriabaai, Rondevlei-gebied (George-kant)
DINSDAG:
Le Vallia, Rosemoor, Conville, Proteapark, Parkdene, Ballotsview, Borcherds, Lawaaikamp, Thembalethu, Wilderness, Constantiakloof, Kleinkrantz
WOENSDAG:
Camphersdrift, Fernridge, Denneoord, Bo-Dorp, Blommekloof, Tweerivieren, Hoogekraal, Hoekwil, Touwsranten plaasgebiede
DONDERDAG:
Wildernishoogte, Dormehlsdrift, George-Suid, Le Grand, Bos en Dal, Groeneweidepark, Sinksabrug, Herold, Geelhoutboom, Eselsjacht, Hansmoeskraal, Jonkershoek, Rooirivierrif, Pacaltsdorp, Rosedale, Waboomskraal, Touwsranten dorpie
VRYDAG:
Glenwood, Loeriepark, Eden George, Genevafontein, Denverpark, Bergsig, Oostelike Uitbreidings
BESIGHEDE: Maandag, Woensdag en Vrydag
Vinnige nommers:
Meld onwettig storting by Wetstoepassing aan: 044 801 6350 of 044 801 6300 (n/u).
Meld plekke waar daar onwettig gestort is by Omgewingsdienste aan: 044 802 2900 of 044 801 6300 (n/u).
Laat dooie diere optel deur die DBV te skakel: 044 878 1990
Rapporteer dooie diere op die N2 aan vir optel deur Sanral: 082 553 4878.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'