GEORGE NUUS - Die geskiedkundige ou tolhuis in die Montagupas word vandag, op Erfenisdag, met 'n groot geskal weer ingewy.
Die tolhuis, meer as 170 jaar oud en een van George se mees historiese geboue, is erg beskadig tydens die brande in Oktober 2018.
Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het gesê verskeie aktiwiteite vind vandag by die tolhuis plaas.
Verrigtinge begin reeds om 07:00 met die verf van bakens op die Cradock-roete. Dit is die oudste pas oor die Outeniquaberge en is in 1811 voltooi.
Die bakens gaan met kalk geverf word en mense wat wil meedoen, moet net 'n eie houertjie vir die kalk en 'n verfkwas, saambring. 'n Natuurbewaarder is in beheer van die verwery.
Van 09:00 sal besoekers veteraanmotors by die tolhuis kan besigtig asook 'n ou transportwa wat deur die Voortrekker-monument in Pretoria beskikbaar gestel is. 'n Perdekar en antieke trekkers sal ook te sien wees.
Om 11:00 word 'n miniatuur tolhuis wat uit klip gekap is, onthul. Dit is die handewerk van Jooste Pycke, 'n klipmeester wat betrokke was by die restourasie van die tolhuis. Die geskiedenis van die tolhuis sal ook in braille by die model geplaas word.
Die Donkiekar-boereorkes verskaf die vermaak en verversings is beskikbaar. Almal is hartlik welkom.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'