GEORGE NUUS - Dr. Nick Zerbst, afgetrede chirurg van George en bekende filatelis, is op 11 November in die ouderdom van 79 jaar oorlede.
Sy dogter, Alice le Roux, sê haar pa was 'n merkwaardige persoon. "Hy was man, pa, oupa, chirurg, versamelaar en kranige jagter."
Hy het sy mediese graad in die 1960's aan die Universiteit van Kaapstad verwerf en daarna op Kovsies gespesialiseer voor hy na George verhuis het waar hy in 1974 sy praktyk begin het.
Zerbst was in George bekend as die eerste oor-, neus- en keelarts in die Suid-Kaap wat vir 'n lang tyd ook in Oudtshoorn en Mosselbaai praktyke gehad het.
Wessel Vermeulen, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), het gesê Zerbst het 'n groot rol gespeel om die Suid-Kaap as area van uitnemende mediese sorg en fasiliteite te vestig.
"Hy was ook betrokke by die stigting van Tak Outeniqua van Sama. Hy was 'n erelid en gewaardeerde kollega, 'n legende en ikoon en een van die heel eerste spesialiste in die Suid-Kaap. Ons eer sy nagedagtenis."
Zerbst was ook bekend as ywerige seëlversamelaar met versamelings wat hy oor 'n tydperk van meer as 60 jaar opgebou het van die ouderdom van 10 jaar af. Hy het 'n buitengewone bydrae tot filatelie in Suid-Afrika gemaak. Sy naam is in 2019 op die ererol van uitgelese filateliste van die Filateliese Federasie van Suid-Afrika aangebring, 'n eer wat slegs toegestaan word aan filateliste wat ongewone hoogtes in hul stokperdjie bereik.
Hy was meer as 30 jaar lid van die Anglo-Boereoorlog Filatelievereniging, die Oranje Vrystaatse Filatelievereniging en die George-seëlklub, waarvan hy vir die afgelope twee jaar voorsitter was.
Zerbst het deur die jare 'n rits toekennings vir sy seëlversamelings ontvang. Dit is veral sy versamelings wat met die Anglo-Boere-oorlog verband hou wat uitsonderlik is. Vyf daarvan is al vir meer as drie dekades by Suid-Afrikaanse nasionale uitstallings met van die hoogste toekennings bekroon. Sy versameling van die kampe vir boerekrygsgevangenes in Indië word as 'n wêreldbeste beskou en sy versameling van sensormerke van die Boeremagte is ongeëwenaard.
Hy laat sy vrou, Russell, kinders Ronelle, Nicolaas, Alice en Wilhelm, en kleinkinders Elke, Nico, Albert, Reenen, Wilhelm, Gerrit en Nicolaas agter.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'