Nie almal is bereid om in die middel van die nag hul slaap vir 'n hond of kat wat in nood is op te offer nie, nog minder vir 'n koei wat in 'n sloot in die modder vasgevang is! Dit is ook nie enigeen wat sterk genoeg is om die versoeking van trane te weerstaan sou hulle op 'n hondjie wat deur 'n slang gepik is, afkom nie.
Nietemin is dit steeds elke dag 'n groot plesier vir DBV-inspekteurs om met diere te werk en tot hul redding te kom.
Salomé Botha, senior inspekteur van die Garden Route DBV, met 11 jaar ervaring, het Vrydag die George Herald by hul kantoor in Ossie Urbanstraat stap vir stap deur hul daaglikse roetine geneem om 'n meer insiggewende prentjie te kry van wat hul werk behels.
Dit was deurgaans opvallend dat die DBV se hoof belang te alle tye diere is, nie net die diere wat by hulle op die perseel akkommo-deer word nie, maar ook alle diere wat hulp en aandag verlang.
Bo en behalwe die kalfies en varkies wat gehuisves word, is daar ook baie honde en katte wat in die DBV se sorg geplaas word met die hoop dat hulle aangeneem sal word. Daar is ook diere wat gelukkig is om 'n huis te hê wat slegs vir tyd en wyl op die perseel loseer terwyl hul eienaars reis.
Inspekteurs werk dagdiens en is dan na 'n dag se harde werk ook om die beurt na ure op roep. Dit is nie ongewoon vir Botha om nege ure te werk en dan in dieselfde aand 'n paar keer uit te ry om diere te gaan red nie. "As mense snags bel en hulle hoor jy was vas aan die slaap dink hulle jy slaap op die 'job'.
Ons het egter nie die luukse om personeel eksklusief vir diens na ure aan te stel nie. Jy werk 'n volle skof en is dan op bystand deur die nag. Soms kom jy eers 03:00 soggens in die bed en drie uur later moet jy opstaan om weer te gaan werk." Maar vir dié diereliefhebber en haar kollegas is geen opoffering te veel nie.
Die inspekteurs se dagtaak behels ook inspeksies by troeteldierwinkels, abattoirs, grooming parlours, algemene publieke klagtes, soos blaffende honde en die lys hou net aan en aan.
Die DBV doen vier keer 'n week wat hulle 'n sweep noem waartydens 'n inspekteur en 'n diereversorger na die minder gegoede woonbuurte uitry om diere wat nie meer versorg word nie, rondloper diere en brandsiek honde op te tel. "Daar word per geleentheid, ongeveer 15 honde ingehandig," het Botha gesê.
"In meeste van die gevalle is die brandsiek al van so 'n aard dat die dier nie gered kan word nie. In minder ernstige gevalle, word dit aanbeveel en gereël dat die hond vir drie maande weekliks gedip word."
Die George Herald het Vrydag saam met Mzukisi Bavuma, reeds twee jaar 'n DBV-diereversorger, en inspekteur Botha op 'n sweep in Thembalethu gegaan en eerstehandse kennis opgedoen oor hoe die proses uitgevoer word. Ontstellend, maar insiggewend.
Botha het ook versoek dat indien mense daarvan bewus is dat hulle honde brandsiek het, hulle die hond van ander honde moet weghou aangesien dit aansteeklik is. Dip kan by die DBV of PDSA gekoop word.
Die publiek word versoek om enige voorvalle van mishandeling by die DBV aan te meld by 044 878 1990.

DBV-diereversorger, Mzukisi Bavuma dra 'n brandsiek hond wat deur die eienaar aan hom oorhandig is. Talle eienaars vat nooit aan hulle diere nie en weier om hulle op te tel. Die hond was taamlik aggressief en Bavuma moes hom uiters versigtig hanteer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'