GEORGE NUUS - Bazil Petrus, een van George se bekendste politieke figure, het uit die George-stadsraad bedank.
Petrus is tydens die vorige munisipale verkiesing onder die DA-vaandel as wyksraadslid vir Parkdene verkies.
Na verneem word sal sy bedanking nie die magsbalans in die raad raak nie - die DA is saam met die VFPlus en die ACDP in beheer.
Chantel Edwards, woordvoerder van George-munisipaliteit, het sy bedanking bevestig en oor ‘n tussenverkiesing om Petrus se leë stoel te vul gesê verkiesingsaangeleenthede word deur die OVK bepaal.
Petrus was nie vir kommentaar beskikbaar nie en daar word verneem dat die DA later sal reageer.
Petrus is onlangs weggelaat uit George se burgemeesterskomitee, maar het wel gedien op die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se raad.
Petrus is 'n voormalige burgemeester van George en het al vir verskeie politieke partye op die raad gedien.
Op die stadium is dit nog nie bekend of hy weer ‘n nuwe politieke tuiste gevind het nie.
Die 2024-verkiesing sal na verwagting tussen Mei en middel Augustus plaasvind.
‘n Volledige berig sal later volg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’