GEORGE NUUS - Die liggaam van 'n babadogtertjie is Sondagaand, 18 Augustus, deur 'n verbyganger tussen 'n huis in Rosedale en die N2 gevind.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, was die baba reeds dood toe haar liggaam gevind is. "'n Geregtelike doodsondersoek is geopen," sê hy.
'n Lykskouing is vanoggend deur 'n mediese patoloog uitgevoer. In hierdie stadium is die oorsaak van die baba se dood onbekend.
"Die vermoede bestaan dat die baba ten volle ontwikkeld was en reeds 'n paar dae oud was," sê Pojie.
Die ma van die baba is in hierdie stadium nog onbekend en enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om die Pacaltsdorp-polisiestasie by 044 803 9100, of Stop Misdaad by 08600 10111, te skakel.
Alle inligting sal as vertroulik hanteer word.
Lees 'n vorige artikel: Baba se liggaam langs N2 gevind
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'