Gallery
GEORGE NUUS - 'n Modeparade waar mense met en sonder gestremdhede sáám die loopplank deel was die hoogtepunt van die ATKV-tak Sommer Net Ons, in Pacaltsdorp, se fondsinsameling verlede Saterdag, 5 November.
Die geleentheid is by Eagles Nest Ministries gehou, met die hulp van onderskeie rolspelers, naamlik Outeniqua Access, APD, Deafsa, George-munisipaliteit, Pacaltsdorp-polisie, Options, Family and Child Welfare, Go George en Atlantic Oil.
Die tema van die dag was, Dit is ek/This is me. Volgens die organiseerder van die geleentheid, Ruzanne van Beulen, word die geld wat ingesamel word aangewend vir mense met spesiale behoeftes.
FOTOGALERY: ATKV-tak Sommer Net Ons Modeparade
George-speaker Sean Snyman het die verwelkoming hanteer en verskeie dans-, drama- en sangitems is aangebied. Veronique en Wimpee, beide plaaslike bekendes, het gaste met hul sangtalent meegevoer.
Go George se span het kinders bewus gemaak van die busse se toeganklikheid vir gestremdes. Die gasspreker was Jacques Duminy van Pacaltsdorp-polisie.
"Ons almal het iets waarmee ons worstel," het Duminy gesê. "Daar is geen rede om nie te skitter nie."
Die span van ATKV Sommer Net Ons-tak in Pacaltsdorp. Foto: Michelle Pienaar
Phamnisha Twigg (14, links) draai haar heupe op die maat van die musiek tot groot vermaak van die gehoor. Kort op haar hakke is Lindie Anne Jumart (15). Beide is leerders van Carpe Diem Skool in George, en verteenwoordig Outeniqua Access. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'