Update
TUINROETE NUUS - Die moordverhoor waarin 'n man van Albertinia, Timothy Ova (54), daarvan beskuldig word dat hy twee dogtertjies, Jacorene Vaaltyn (9) en Sharon Arries (10), in September verlede jaar by sy huis in Janfiskaalstraat vermoor het, het vandag vir die vierde dag in die rondgaande hooggeregshof in George voortgegaan.
Ova staar vyf aanklagte in die gesig waarvan twee moord is en een dwarsboming van die gereg. Hy het vandeesweek onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom.
Vroeër vandag, Donderdag 26 Oktober, het Sharon Arries se pa agter die getuiebank ingeskuif.
Hy het onder andere getuig oor die noodlottige Donderdag (22 September 2022) toe hy en twee ander mans op die kinders se lyke in Ova se huis afgekom het.
Jacorene se liggaam is in 'n gat onder Ova se bed gevind, terwyl Sharon se liggaam in 'n blou plastiekdrom in die badkamergedeelte van die sinkhut was. Die kinders se liggame was in wit lakens toegebind.
In sy pleitverduideliking, wat Maandag 23 Oktober met die aanvang van die verhoor deur sy regsverteenwoordiger in die hof op rekord ingelees is, sê Ova dat die gat in sy huis waarin klein Jacorene se liggaam gevind is, reeds jare voor die tyd daar was.
'n Gedeelte van Ova se sinkhut, wat aan die hoofhuis op die perseel vas is, is glo oor die gat gebou en weens verskeie inbrake het hy besluit om die gat met sandsakke as 'n lokval (booby-trap) in te rig om enige voornemende rowers vas te trek.
Hy ontken egter dat hy enigiets met die kinders se moord te doen gehad het en sê in sy pleitverduideliking dat hy met sy aankoms tuis op Donderdag 22 September 2022 gesien het die gat was oop en ná hy drie van die sandsakke verwyder het, het hy die dogtertjies se liggame gevind.
Die hof het die week gehoor dat daar sand op albei se gesigte was, op hul arms, bene en hul klere. 'n Nadoodse ondersoek is in George gedoen en beide slagoffers is glo weens versmoring dood. Daar was ook sand in elkeen se lugweg. Die meisies is vermoedelik gelyktydig vermoor.
Tydens Sharon se pa se getuienis het die hof gehoor dat hy en twee vriende die kinders by Ova se huis gaan soek het.
Volgens hom moes hulle egter 'n slot aan die buitekant van die Ova se sinkhut se deur afbreek en die deur oop skop om toegang tot die hut te verkry.
Ova is glo deur Sharon se pa gekonfronteer waarna hy uit die hut gevlug het deur dieselfde gat waarin Sharon se liggaam gevind is.
Jacorene se liggaam is daarna in die drom ontdek en die polisie is ontbied. Ova is die volgende dag, Vrydag 23 September, in Albertinia in hegtenis geneem.
Twee byle, waarvan een in die gat gelê het, en 'n hamer is ook op die toneel gevind. Die hamer het ook sand opgehad en die onderkant van die gat was ook met sand bedek.
Die hof het gehoor dat Sharon se pa die Woensdag toe die kinders as vermis aangemeld is, en vroeër op die Donderdag wat hulle liggame gevind is, vir Ova gevra het of die kinders by hom was en hy het dit glo ontken.
Vroeër die week, tydens Elsie Prins, 'n buurvrou en kollega van Ova, se getuienis, het die hof gehoor dat hy nie die Donderdag van die gruvonds by die werk was nie. Hy het vir Prins vertel dat hy na 'n familielid se begrafnis in die Kaap moes gaan.
'n Sersant van Albertinia-polisie is tans agter die getuiebank.
Volgens hom was Ova se deur na sy hut met 'n slot van buite gesluit en dit was doodstil binne die huis toe hy die Donderdagoggend, tydens 'n soektog na die kinders, by Ova se huis was. Met 'n tweede besoek later die dag het Ova glo aan die beampte vertel dat hy die kinders die vorige dag gesien, maar hy het hulle weggejaag.
Die saak dien voor regter Matthew Francis. Ova word deur Legal Aid SA verteenwoordig en advokaat Lenro Badenhorst is vir die staat.
Die ondersoekbeampte in die saak is ao. Alistair Rezant van die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
Vorige artikels:
- Kindermoord: Beskuldigde pleit onskuldig
- Verhoor van vermoorde Albertinia meisies begin
- Voorverhoor van Albertinia moordsaak het afgeskop
- Moordverdagte se saak uitgestel
- Verdagte in dubbelmoord bly in aanhouding
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’