Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - ACVV George se 100 jaar van ononderbroke, omvattende diens aan die gemeenskap, is Woensdag 11 Oktober met swier en baie gevoel in die George-stadsaal gevier.
Gaste was fyn uitgevat en 'n heildronk is deur burgemeester Melvin Naik ingestel, wat ook 'n oorkonde (toekenning) aan plaaslike voorsitter Rina de Swardt oorhandig het.
Die heerlike driegangmaal is deur die burgemeesterskantoor geborg en die raadslid vir gemeenskapsontwikkeling, Mercia Draghoender, was die koördineerder.
'n Hartroerende program met verskeie ligte oomblikke is gelei deur Jak de Priester van Reis na Gister-faam en George se eie nasionale sanger, Michael Lindt.
Albei het die verhaal van die ACVV, vergesel met gepaste liedjies en stories oor hul eie ervarings, met die gehoor gedeel.
Die swaar tye wat tot die totstandkoming van die ACVV gelei het, sowel as die nuwe kleuterskoollied gesing deur die ACVV-kleintjies, is in 'n video uitgebeeld.
Die hoogtepunt van die aand was egter toe al die ACVV-personeellede en vrywilligers die pragliedjie, The Rose, gesing het.
Die koor se uitstekende vertolking van die lied het ieder en elk se hartsnare geroer.
Almal was dit eens - die maande se harde oefen was oor en oor die moeite werd!
Lees Rina de Swardt se volledige toespraak aanlyn.
Twee jong danspaartjies van die Makarias School of Dance het die voete laat jeuk terwyl die egpaar, Yvonne en Chris van der Walt, beide diep in hul 80's, gewys het hoe hou dans 'n mens jonk!
Jak de Priester het meesterlik opgetree as seremoniemeester by die funksie.
Gebore uit nood
Die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging het in 1904 as welsynsorganisasie tot stand gekom toe die land vasgevang was in die nasleep van die Anglo-Boereoorlog se ellende. Die George-tak het sedert 18 Oktober 1917 sy strewe om 'n ontwikkelingsgerigte maatskaplike diens aan minderbevoorregtes te lewer, pligsgetrou nagekom.
Die tak het 55 personeellede, maatskaplike werkers ingesluit, wat daagliks poog om werklose gesinne terug te help op die pad van selfversorging.
Die stigterslid van die dienssentrum, Greta Gericke, wat onlangs 99 geword het, en die oudste lid van die ACVV is, is saam met ander voorsitters vereer.
Die taak van barmhartigheid sluit in maatskaplike dienste aan 1 500 kinders in die arm woonbuurte.
Kleuterskole
Die ACVV besit twee kleuterskole - die Vinknes met 240 kleuters van ouderdom 3 maande tot skoolgaande ouderdom, asook twee parallelmedium Afrikaans en Engels gr. R-klasse.
Die Rooibootjie-kleuterskool by Syferfontein informele nedersetting voorsien in 50 kleuters se behoeftes.
Ouer persone
Byekorf-dienssentrum lewer alomvattende dienste aan 250 persone bo 60 jaar wat kliniekdienste, etes en uitstappies insluit. Terwyl bekostigbare wooneenhede by Harmonie in Sas de Kocklaan verskaf word.
Sterkte
Die huidige bestuurder van die ACVV, Riana Lategan, wat al 22 jaar verbonde is aan die ACVV, is sterkte toegewens in 'n tyd waar die uitdagings net al hoe meer raak.
Maar, die vroue betrokke by hierdie ongelooflike organisasie weet nie van tou opgooi nie. In die woorde van voorsitter De Swardt: "Die ACVV George kan met trots terugkyk oor 100 jaar met die wete dat waar ons kon en nog kan, ons altyd sal poog om presies dit te doen."
Hier's op nog 100 jaar!
Kyk 'n video hieronder.
- ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD JOERNALIS
- VIDEO: WESSEL VAN HEERDEN, GEORGE HERALD
- FOTO'S: PAULINE LOURENS EN WESSEL VAN HEERDEN, GEORGE HERALD
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'