GEORGE NUUS - Enige soort elektrisiteits‘onderskepping’ - maak nie saak hoe klein of onskuldig dit lyk nie - is onwettig en gevaarlik.
Of jy nou ’n stroombreker omseil om ’n ekstra verlengingskoord te voer of jou eie draad aan ’n elektriese boks koppel, onwettige verbindings veroorsaak meer probleme as wat jy besef.
George-munisipaliteit wil inwoners bewus maak van die negatiewe gevolge wat onwettige verbindings het of kan hê, en moedig inwoners aan om nie sulke verbindings te maak nie.
Wat word as ’n onwettige verbinding beskou?
’n Onwettige verbinding is enige elektriese bedrading, apparaat of toerusting wat op enige wyse aan die munisipale elektriese netwerk gekoppel is om toegang tot elektrisiteit te verkry sonder toestemming en/of betaling.
Dodelik
Daar is geen tweede kanse met elektrisiteit nie. Onwettig gekoppelde drade het oor die algemeen nie aardlek-eenhede om jou teen elektriese skok te beskerm nie - jy kan dus doodskok of ernstig beseer word.
Kinders en diere sal heel waarskynlik op drade afkom wat oor paaie en vlak slote lê en sal byna verseker doodgaan as hulle geskok word.
Brandstigter
Omdat daar gewoonlik geen stroombrekers op onwettige verbindings is nie, kan die drade oorverhit en ’n brand veroorsaak. Elektriese brande is ekstra gevaarlik. Dit moet nie met water geblus word nie, want water gelei elektrisiteit, en jy kan geskok word.
In die donker
Elektriese bokse en toerusting is ontwerp om ’n sekere hoeveelheid elektriese stroom te hanteer. Onwettige verbindings oorlaai daardie bokse en sal uitskop om die netwerk te beskerm, wat hele woonbuurte sonder krag laat.
Die munisipaliteit word ook deur die wet verplig om alle elektriese lyne van onwettige verbindings te verwyder voordat hulle die krag weer mag koppel.
Dit laat betalende burgers sonder elektrisiteit terwyl die onwettige lyne verwyder word.
Geld wat beter bestee kan word
Elektriese toerusting is baie duur. Elke keer as elektriese toerusting vervang word, kos dit geld wat op ’n ander plek in jou gemeenskap bestee kon word.
Jy kan tronk toe gaan
Diefstal van elektrisiteit is ’n kriminele oortreding waarvoor jy tronk toe kan gaan.
Rapporteer
Rapporteer onwettige verbindings by 044 801 9222 / 044 803 9222 / 044 801 6300 (na ure).
Rapporteer mense wat onwettige verbindings maak by 0860 044 044, 10111 (polisie) of die nommers hierbo.
Beloning
George-munisipaliteit bied ’n R2 500-beloning aan vir inligting wat tot die suksesvolle skuldigbevinding van elektriese diefstal en / of vandalisme in ’n geregshof lei.
Die getuie sal op rekord na die owerhede moet gaan en sy / haar naam en kontakbesonderhede moet gee vir die doel om te getuig, maar sy / haar identiteit sal beskerm word.
Meld aan by 0860 044 044 om vir die beloning in aanmerking te kom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’