hier huil ek in Januarie, heeltemal "broke",
terwyl ek aan 'n stukkie droë brood "choke",
elke keer as ek sluk maak my keel 'n knop,
maar dan drink ek so 'n bietjie "drink o pop"
ek loer deur my venster en my hart klop wild,
voor my deur is die vrou wat ek hoendergeld skuld,
ek laat my kinders lieg om te sê ek's nie tuis,
maar intussen kruip ek weg in my eie huis
by die ATM gaan vat ek vir oulaas 'n kans,
maar die skerm wys wéér, "insufficient funds",
van my "pay" en "bonus" is daar niks meer oor
en die skuldeisers is nou almal op my spoor
soos 'n "larney" in Desember, my kop heel skuins,
ek koop links en regs en sê, "keep the change"
in Januarie ervaar ek nou "the poorman's pain"
en nou bid ek vir 'n "tafel in die woestyn"
in Desember gedink ek is 'n miljoenêr,
ek is platsak en Januarie se einde lê ver,
ek verlang na die dae van "melk en heuning",
maar my beursie is leeg en ek soek 'n lening
dis McDonald's se "big mac" wat ek nou begeer
en 'n Burger King "burger" om my op te beur,
sonder "Spur" se "spare ribs" kan ek nie meer lag
en vir 'n KFC "twister" sal ek lank moet wag
in Desember het ek alte lekker rinkink
en ek treur as ek net aan die "big days" dink,
geen koste bereken en roekeloos spandeer,
selfs die hoogste pryse kon my nie keer
in Januarie is ek sommer heel omgekrap,
want van soggens tot saans eet ek mieliepap,
ek droom gedurig van Desember se jolyt,
maar in Januarie stagneer ek in selfverwyt
in Desember het ek gedans vir die duiwel,
nou sing ek net koortjies en lees die Bybel,
ek sing "Lei my HERE" en tjank soos 'n kind
en die "waters waar rus is" kan ek nie vind
ek sit sonder 'n sent en in die skande,
my "vriende" is so skaars soos hoendertande,
ek het diep berou oor my huidige bestaan
en Sondag sal ek gou weer kerk toe gaan
my vakansie is verby en ek voel maar goor,
vir my eerste werksdag het ek lus verloor,
môre het nou swaar op my hart kom lê,
want ek is gestrand sonder "taxi-fare"
alleen in my ellende lek ek my wonde
en dra die gevolge van die "season" se sonde,
ek besef alte goed wat het my oorgekom,
maar volgende Desember is ek wéér so dom...
Gedig deur Bernard Fielies
(© kopiereg)