Gedig deur Bernard Fielies ©
meteens is George met droefheid omgord,
toe 'n rou gebou skielik in duie stort,
die son sak skielik onder die harde slag
en dadelik verduister die helder dag
in die greep van paniek is ons tot min in staat
en onsekerheid en vrees vul Victoriastraat,
ons val oor mekaar om geliefdes te vind
en roep histeries hulle name in die wind...
in 'n warboel van emosies kruip ons met gebed,
met die hoop om al die vasgekeerdes te red,
onder die puin hoor ons dowwe stemme pleit,
maar met geroggel verloor sommige die stryd
soos krete verkrummel en geroep verflou,
sukkel ons hulpeloos om hoop te behou,
in seer stilte word níémand meer opgespoor,
maar ons wag om nog 'n stem uit rommel te hoor...
in 'n stofwolk wonder ons waar gaan ons heen,
bewoë tussen bloed en gebreekte steen,
ons roep nog na die HERE al is ons hees,
want net HÝ het die salf om ons te genees
hyskrane vertrek en die soektog is verby,
die polisie en nooddienste het weggery...
die sirenes van George is vandag almal stil,
maar die gille van gister eggo nog skril...