GEORGE NUUS - Koorliefhebbers kan uitsien na die optrede van vier pragkore, waaronder Rhodes Universiteit se kamerkoor, eerskomende Sondag 18 Augustus.
Die geleentheid vind by St Mary's Rooms Katolieke Kerk in Rosemoor in Beerstraat 22 om 15:30 plaas. Dié koor besoek George as deel van hul toer aan die Tuinroete.
Die ander kore uit eie bodem is die Eden Camerata-kamerkoor onder leiding van André van Zyl, die George-mannekoor onder leiding van Chrisna du Preez en Voce Excellencia, onder leiding van Jacques Lakey.
Rhodes Universiteit se kamerkoor toer onder meer deur die Kaapse Wynlande en na Kaapstad. Hulle bied 'n reeks musiekwerkswinkels en samewerkende konserte aan saam met die Zolani Jeugkoor, Laerskool Montagu se kore, en kore van Universiteit van Kaapstad, Universiteit van Wes-Kaap en Cape Peninsula University of Technology, asook die Metodiste-kerkkoor in Rondebosch.
Sibusiso Njeza, komponis, dirigent en RUCC-musiekdirekteur, sê dit word gedoen as 'n proaktiewe manier om gewortel te bly in die plaaslike omgewings.
Njeza voeg by dat die krag van musiek baie belangrik is, veral in 'n land soos Suid-Afrika, waar armoede groot is.
Rhodes Universiteit se kamerkoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’