TUINROETE NUUS - Ná maande van YouTube en Facebook-oefeninge en selfs 'n digitale konsert wat wêreldwyd uitgesaai is, het die tyd uiteindelik aangebreek vir die bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor (SKKK) om weer by 'n "regte" konsert op te tree.
Dié koor kan vanjaar vir die eerste keer gesien word by Klassieke Klein Karoo Kersfees, wat die afgelope twee jaar met groot sukses op die granaatplaas, Celebratio, buite Oudtshoorn aangebied is.
Die konsert, onder die Klein-Karoo se sterrehemel, vind op Saterdag 12 Desember plaas met Corlea Botha en Jannie Moolman as soliste.
Volgens die dirigent van die SKKK, Jan-Erik Swart, het hulle reeds vir die konsert begin repeteer.
"Ons is geweldig opgewonde om deel van hierdie produksie te wees aangesien dit, as gevolg van die Covid-19-grendeltydperk, ons eerste gesamentlike konsert hierdie jaar gaan wees.
"Ons koorlede is baie erg deur grendeltyd benadeel. Om by Klassieke Klein Karoo Kersfees op te tree, is 'n fantastiese vooruitsig."
Hoewel hulle al vantevore saam met Jannie opgetree het, sal dit hul eerste vertoning saam met Corlea wees.
"Die kinders kan nie wag om met hul engelstemme dié bekende kunstenaars se liedkeuses met harmonie in te kleur nie," sê Jan-Erik.
Konsertgangers kan uitsien na 'n program vol bekende en geliefde Kersliedere soos Stille Nag, Jerusalem en O Holy Night/Dis Kersfees, asook klassieke treffers soos Love Changes Everything, Panis Angelicus en O Sole Mio. Daar sal ook geleentheid wees vir samesang.
Die koor en soliste word begelei deur die Stellenbosch-stadsorkes, onder leiding van Paul Loeb van Zuilenberg.
Die konsert begin om 19:30 en die kos- en wynstalletjies is reeds van 18:00 af oop. Plaaslike restaurante en wynkelders sorg vir iets te ete en te drinke voor die vertoning begin asook tydens pouse.
Jannie Moolman
Kaartjies
Weens Covid-19-reëls is slegs 500 kaartjies beskikbaar vir die vertoning, Bespreek dus vroegtydig om teleurstelling te voorkom. Kaartjies kos tussen R200 en R220 en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za of by Postnet se kantoor in Oudtshoorn. Dit is alles gereserveerde sitplekke op stoele.
Die plaas is 30 km buite Oudtshoorn, rigting Calitzdorp en geen grondpaaie hoef gery te word nie.
Vir meer inligting kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'