VERMAAK NUUS - Musiekliefhebbers kan uitsien na ’n besondere aand wanneer die internasionaal bekroonde kunstenaar, Joseph Clark, saam met plaaslike kore optree in die produksie Queen & Choirs.
Die vertoning vind plaas by Glenwood House School op 25 Maart om 18:30. Clark sal die verhoog deel met die George-mannekoor, Glenwood House Senior Choir, asook koorlede van Hoërskool Outeniqua en York High.
Die produksie vier die ikoniese musiek van Queen en hul legendariese voorsanger, Freddie Mercury.
Met meer as drie dekades se ervaring in die uitvoering van Queen se repertorium, is Clark bekend vir sy kragtige stem en dinamiese verhoogteenwoordigheid.
Sy internasionale loopbaan het hom reeds na verskeie lande geneem, insluitend optredes in Zanzibar, Mercury se geboorteplek. Clark is gebore in Amarillo is, is aanvanklik as balletdanser opgelei voordat hy na Suid-Afrika verhuis het, waar sy loopbaan in musiekteater begin blom het.
Gehore kan uitsien na geliefde treffers soos We will rock you, Another one bites the dust, We are the champions, Bohemian Rhapsody, Crazy little thing called love en Somebody to love, ondersteun deur ryk koorharmonieë en energieke verhoogproduksie.
Clark sê sy doel is nie om groot kunstenaars na te boots nie, maar om hul musiek lewendig te hou deur uitvoerings uit eerbetoon om nostalgie op te wek en nuwe ontdekking van die musiek aan te wakker.
Kaartjies: R130 (volwassenes), R70 (onder 13)
Beskikbaar by: Tixsa
Dit beloof om ’n aand van klassieke rock, indrukwekkende koorklanke en gesinsvriendelike vermaak te wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’