GEORGE NUUS - Die jaarlikse Jong Musikantekompetisie se galakonsert vind op Vrydag 15 September in die NG Kerk Tuinedal in Rehoboth-straat om 19:00 plaas.
Kaartjies vir hierdie gesogte musikale gebeurtenis is beskikbaar aanlyn by www.georgemusicsociety.co.za of by The Office, Precap-sentrum teen R80 vir volwassenes. Kinders wat deur volwassenes vergesel word het gratis toegang.
Kaartjies sal ook by die deur beskikbaar wees.
Die George-musiekvereniging wil op die wyse ouers aanmoedig om kinders aan musiek bloot te stel en om betrokke te raak by die ontwikkeling van musiek.
Die oudisies wat plaasgevind het op 28 en 29 Augustus is bygewoon deur musiekleerders van 22 musiekonderwysers van so ver as Mosselbaai.
Amper tagtig soliste, tien duette en tien ensembles het meegeding aan die oudisies. Die beste van hierdie deelnemers sal gekies word om aan die finale konsert deel te neem.
Hierdie kompetisie se doel is om die leerders die geleentheid te gee om hulle talente te slyp en ten toon te stel en selfvertroue op te bou.
Die twee beoordelaars, Liesl Stoltz, die bekende fluitspeler en Jose Dias, pianis, wat al twee aan die Universiteit van Kaapstad verbonde is, was baie beïndruk met die leerders, maar veral met die toewyding van die onderwysers wat volgens die beoordelaars eintlik ook toekennings verdien.
Volgens Sandra Tilbrook, een van die organiseerders, was dit duidelik dat baie ure se harde werk 'n uitsonderlike standaard te weeg gebring het. "Daar heers groot opwinding om uit te vind wie as die wenners van die gesogte pryse aangewys gaan word."
Die kompetisie bestaan uit 'n senior en junior afdeling en verskeie pryse en trofeë soos onder andere vir die beste pianis, sanger, fluitspeler en ensemble sal toegeken word asook geskenke en kontant pryse in die verskillende afdelings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'