GEORGE NUUS - 'n Jong musikant, wat deesdae opslae maak, het pas haar tweede enkelsnit en debuutalbum voltooi. Die sanger en liedjieskrywer, Jaid River, oftewel, Jeanlie Minnie, het in George groot geword voordat sy na Pretoria verhuis het.
River se debuut-album, Verlanger, en haar tweede enkelsnit, Stad Van Verlange, is goed deur haar aanhangers ontvang.
Tans is sy besig om die reëlings vir haar albumvrystelling te finaliseer en sien sy uit daarna om die land vol te toer met haar musiek en om saam met ander musikante en liedjieskrywers te werk.
Stad Van Verlange word beskryf as 'n kragtige ballade oor die ervaring om agter te laat wat jy ken en die onsekerheid en twyfel wat daarmee gepaard gaan wanneer jy vir die eerste keer alleen in 'n nuwe stad of plek is.
Die enkelsnit volg in die voetspore van Duisend Jaar Van Nou, wat baie goed ontvang is en vir haar drie benoemings verseker het by vanjaar se Afri-Indië Onafhanklike Kunstenaar-toekennings.
Sewentien
River het deur haar hele skoolloopbaan tuisonderrig ontvang en in 2016 gematrikuleer. Die jong sanger en liedjieskrywer het in 2016 (op die ouderdom van sewentien) by restaurante en markte begin optree. In dieselfde jaar, het sy die geleentheid gekry om by die Karoo-stilfees op te tree saam met kunstenaars soos Joshua Na Die Reën, Lizandra Winter, Len Muller, en Jaco van der Merwe, en blywende vriendskappe is gevorm.
Voordat sy haar diploma in musiek verwerf het aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie in 2018, het sy meer oor die musiekbedryf geleer onder leiding van Lizandra Winter en Joshua Na Die Reën.
Nadat sy haar diploma in 2021 verwerf het, het sy in alle erns op haar musiek-loopbaan begin fokus.
Kinderjare in George
In 'n onderhoud met George Herald het River verduidelik hoe haar grootwordjare in George haar musiek beïnvloed het: "George is vir my een van die mooiste dele van ons land en baie van my liedjies, insluitend Bergbranders en Verlanger wat op my album is, is vir seker gedeeltelik geïnspireer deur die mooi landskappe en plekke in en rondom George."
Sy het al op laerskool klavierlesse geneem, op 10-jarige ouderdom haar eerste liedjie geskryf, en toe sy 11 jaar oud was het sy haar pa gevra om haar te leer kitaar speel.
"Ons het op daardie stadium in Groot-Brakrivier gewoon. Ek het toe ook my eie kitaar gekry vir my 12de verjaarsdag en toe op hoërskool het ek vir myself basiese recording gear by Rock Solid Music gekoop om ook te begin leer hoe dit werk en ek het ook op 'n stadium weer klavierlesse begin neem by Hoërskool Outeniqua en toe later by Ann Carol van Sedgefield. Tussen deur dit als het ek nooit ophou liedjies skryf nie."
Op 'n vraag oor haar tyd in George het River gesê: "Ek is mal oor daai area. Ons het vir so twee en 'n half jaar in Groot-Brakrivier gebly voordat my ouers die huis in George gekoop het in 2013. Die vryheid wat ek en my sussies daar gehad het was amazing. Daar is so baie om te doen! Ons het alles gedoen van bergfiets ry, branderplank ry, stap in die berge, en kloofing in die Kaaimansrivier. Ek doen dit steeds wanneer ek daar is tydens vakansies."
Alhoewel daar nog niks konkreet gereël is nie, beplan River om 'n hele paar vertonings in die George-omgewing oor Desember te doen. "Ek en my band sien baie uit om daar te kom optree," het sy gesê.
Jaid River, oftewel, Jeanlie Minnie, is deur haar grootworddorp, George, geïnspireer met 'n paar snitte van haar debuutalbum, Verlanger. Foto: GP van der Merwe
Jaid River, oftewel, Jeanlie Minnie, is deur haar grootworddorp, George, geïnspireer met 'n paar snitte van haar debuutalbum, Verlanger. Foto: GP van der Merwe
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'