GEORGE NUUS - Dit lyk of die optrede van die ou bekende sangpaar, Innes (64) en Franna (60) Benade môre, Vrydag 6 Oktober, net die begin van groot dinge is. Die plan is dat hulle in die toekoms meermale saam gaan optree.
Hulle tree môre om 13:00 by die NG Moedergemeente in George ten bate van Huis JJ Watson op. Dit sal hul eerste openbare optrede in 20 jaar wees.
Sedert George Herald Vrydag 29 September op Facebook berig het oor die optrede was daar oorweldigende reaksie en dis wyd verwelkom.
Nadat hulle getroud is het hul lewens verskillende rigtings ingeslaan. Hulle het wel in 2020 by die begrafnis van hul pa, Freek Benade, tydens 'n privaat geleentheid ter nagedagtenis aan hom gesing.
Dis 'n lang pad wat die twee broers geloop het wat in die 80's en 90's die verbeelding aangegryp het.
Innes en Franna het in die voormalige Nylstroom op 'n plaas grootgeword. Innes was daar onder meer hoofseun op skool.
Alles het daar begin toe hulle as leerlinge by die Vroue-landbou-unie van Nylstroom gesing het. Dit was danksy hul ma Sue, wat by die instansie betrokke was.
Na skool is Innes na die Universiteit van Pretoria waar hy teologie gestudeer het. Franna het uiteindelik musiek aan die Pretoriase Technikon gaan studeer.
Hul lewens het in 1985 vir altyd verander toe hulle die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen het. Wyle Rozanne Botha, die dogter van wyle pres. PW Botha, was een van die finaliste en Botha was die aand teenwoordig in die Johannesburgse stadskouburg.
Daarna het hulle landwyd begin optree, met optredes was vir lank vooruit vol bespreek was.
Hul sangloopbaan het 'n verdere hupstoot gekry toe hulle ook die Debuut-kompetisie van die destydse TV1 gewen het. Dit was destyds soos die Idols van vandag.
Franna is in die laat 80's getroud en Innes in die vroeë 90's. "Toe het ons lewens kinders, bottels en doeke geword," het Innes vertel.
In 2005 het Innes en sy gesin na die Suid-Kaap verhuis. "Dit was die begin van 'n nuwe lewe van vrede, liefde en harmonie."
Innes het nie stilgesit nie en is deesdae onder meer eiendomsagent en ook predikant vir die Oudtshoorn Hervormde gemeente.
Tydens 'n onlangse gesprek het Franna, wat nog in Gauteng woon, laat weet hy gaan deur die gebied ry en hulle het besluit om weer saam op te tree.
Innes is baie opgewonde oor die geleent-heid. Die baie bekende sangeres van weleer Anneli van Rooyen gaan ook in die gehoor wees. Sy woon deesdae in George en die Benades is groot vriende met haar.
Innes glo môre is die begin van groot dinge.
Mense wat belangstel kan hom kontak by 074 492 0304 of kan kaartjies by die deure koop.
Die broers Franna en Innes Benade.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’