VERMAAK NUUS - Die Eden Camerata-kamerkoor het Sondagmiddag tydens ’n konsert in ’n volgepakte St. Mark-katedraal afskeid geneem van hul geliefde dirigent, dr. André van Zyl. Hy het die koor die afgelope drie jaar gelei.
Musiek is een van sy passies. Hy het reeds vanaf laerskool klavierlesse geneem en aan kunswedstryde deelgeneem. Tydens sy verblyf in Pretoria sing hy in verskeie kore onder leiding van onder andere Kobus de Witt en Ansa du Toit (Ad Libitum), asook Mathilda Hornsveld (Truk Multikoor, Die Singende Kersboom).
Meer onlangs het hy ook in Musica Amici in George onder leiding van Dalene Brits gesing. Met sy betrokkenheid by Eden Camerata begin hy meer op koorleiding fokus en woon koorleierkursusse by, aangebied deur die Choral Celebration Network Foundation (CCNF) en meesterklasse deur prof. Martin Berger. Hy het sy nuwe kennis en ondervinding gebruik om Eden Camerata te lei en stel ook ’n handleiding op om koorsangtegniek te verbeter.
Minute voor die konsert Sondagmiddag moes daar stoele ingedra word om meer sitplekke beskikbaar te stel vir koorliefhebbers van heinde en ver.
Die koor het begin met ’n indrukwekkende toonsetting van Psalm 117 wat in Latyn, Engels en Afrikaans gesing is. Die koor is begelei deur die komponis daarvan, Tinus Badenhorst.
Die 98-jarige prof. Chris Lamprecht en sy vrou Elza groet dr. Andrè van Zyl ná die konsert.
Die tema van ’n aantal werke daarna, was ‘Vrede’. Calvin Steyn, violis van George, het saam met die koor die Latynse gebed, Pacem, uitgevoer. Werke van Franco Prinsloo, Niel van der Watt en Marco Fisina het die gewyde stemming in die katedraal in die laatmiddagson gevul. Die koor se uitvoering van Lux Beata Trinitas, gekomponeer deur Ola Gjeilo, was besonders en was vervolmaak deur die soet klanke van die dwarsfluit, gespeel deur Kaléne Roux.
Tydens die tweede helfte van die program is sekulêre en ligte werke gesing. Die gedig van NP van Wyk-Louw (Die merrie met die kol) en musiek van onder andere Elgar, John Rutter, en Plummerfelt (die bekende Danny boy) was uiters spesiaal. Die koor is begelei deur Fiona Heinhold en AnneMarie Buchholz.
Madeleine Smuts, een van die koorlede, het ’n aangrypende gedig van waardering, deur haarself geskryf, aan Van Zyl voorgedra. Hierin het sy die sentiment van elke koorlid vervat. Na ’n staande toejuiging het die koor vir hom ’n tradisionele Ierse lied, An Irish blessing, gesing.
’n Besondere eer het Van Zyl ook vroeër die week te beurt geval toe prof. Chris Lamprecht (nou 98) ’n werk wat hy gekomponeer en aan hom opgedra het, aan hom en die koor oorhandig het. Dit is ’n toonsetting van Psalm 136 - Liefde sonder einde. Hy het die werk vir die koor op die klavier voorgespeel, waarná die koor dit met behulp van bladmusiek saamgesing het. Dit is die tweede opdragwerk vanuit hierdie musiekikoon se pen, wat vir die koor geskryf is.
Koorlede is dit eens dat Van Zyl se vertrek ’n leemte in hul harte gaan laat. Hy verlaat George binnekort en verhuis na Kaapstad. Sy plek as dirigent word voorlopig deur Ronell Mentz, een van die huidige koorlede en ook ’n stigterslid van Eden Camerata gevul.
Die gehoor is getrakteer op uitstekende koormusiek.
Die koor in aksie Sondagmiddag - vir 'n laaste keer onder dr. Andre van Zyl se leiding. Foto's: Alida de Beer
Van Zyl het die koor met oorgawe gelei in die drie jaar wat hy die dirigent was.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’