GEORGE NUUS - 'n Bekendstelling van Chanette Paul se 50ste boek, Anoniem, is op Saterdag 14 April by Exclusive Books in die Garden Route Mall aangebied.
Sidney Gilroy het 'n interessante en lekker lewendige gesprek met die skrywer gevoer en gaste het hulle verlustig in haar gesels oor haar nuutste publikasie, van haar ouer boeke, haar skryfstyl en lewe as skrywer.
Die impak van boekdiewe op skrywers het ook ter sprake gekom.
Anoniem is Paul se mees persoon-like verhaal nog en vertel die verhaal van Lula Prins wat 'n nuwe lewe in 'n nuwe dorp onder 'n nuwe naam begin. Anoniem. Dan stap 'n nuwe man ongenooid by haar lewe in en haar verlede begin haar inhaal.
Kriek Kruger wil uitvind wat met sy laatlambroer, Dian, gebeur het. Het hy werklik na sy dood gespring of wil iemand dit na selfdood laat lyk? En wie het daardie verdoemende verslag geskryf wat hom finaal laat knak het? Terwyl Kriek na antwoorde soek en Lula van die spoke in haar verlede vlug, gooi die noodlot hulle saam in 'n opwindende, gevaarlike wentelbaan.
In haar grootwordjare het Paul op verskillende plekke gebly en nege skole bygewoon. Sy het aan vyf universiteite gestudeer en het al in sewe provinsies gebly. Deesdae is sy 'n Mosselbaaier.
Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is 'n sprokie wat sy op 16-jarige ouderdom geskryf het en wat op Siembamba voorgelees is. Die tweede, 'n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer.
Eers 20 jaar later, in 1995, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het 'n verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook 50 boeke in verskillende genres.
Chanette Paul teken 'n kopie van haar nuwe boek vir prof. Raymond Auerbach, 'n professor in grondkunde en plantproduksie aan die Mandela Universiteit George-kampus.
Anoniem is Chanette Paul se 50ste boek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’