GEORGE NUUS - Die Eden Camerata-kamerkoor van George, bied hul afsluitingskonsert op 8 Desember, om 19:00 in die St Mark's Katedraal, in George aan.
Die kamerkoor het hierdie jaar 'n uiters suksesvolle jaar gehad. Hulle het aan die koorfees in Rheebok deelgeneem, en ook saam met Fortissimo-koor die bekende Mis nommer 2 in G van Schubert hier in George uitgevoer.
Hulle het ook verskeie optredes in George, Heroldsbaai en Mosselbaai gehad.
Een van die ander hoogtepunte hierdie jaar, was 'n spesiale optrede by die Ou Tolhuis, in die Montagupas. Daar was 'n rekord aantal gaste by dié geleentheid en die fondse van die konsert help die tolhuis om 'n waterpomp te installeer.
Die koor sing ook die jaar by twee Kerssangdienste, naamlik by die NG Moedergemeente en NG Kerk Tuinedal
Die afsluitingskonsert beloof om weer uniek te wees. Buiten 'n paar Kersliedere sal die koor werke van Schubert, Lamprecht, Rodriguez en ander komponiste in onder andere Afrikaans, Engels, Duits, Spaans, Frans en Sweeds sing.
Die program sluit ook ligte musiek in soos Yes sir, that's my baby en Edelweiss. Toegang is gratis, maar donasies sal waardeer word.
Eden Camerata-kamerkoor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’