GEORGE NUUS - In Groenkloof heers daar jaarliks tydens die Bekers van Liefde-projek 'n gees van dankbaarheid wanneer inwoners hul waardering toon vir die toegewyde versorgers wat daagliks met liefde en deernis na hulle omsien.
Bekers van Liefde was vanjaar weer 'n hoogtepunt op die Groenkloof-kalender, 'n tradisie wat nie net harte aanraak nie, maar die gemeenskap se waardes van omgee en samehorigheid opnuut bevestig.
Die inisiatief bestaan nou al vier jaar lank onder die bekwame leiding van Susan van Vuuren, portefeuljehouer vir Sorg in die Groenkloof Glen-huiseienaarsvereniging.
Met groot toewyding en aandag aan detail koördineer sy die projek wat bestaan uit pakkies vol bederfitems, saamgestel deur inwoners as 'n simboliese 'beker liefde' vir elke versorger.
Hierdie jaar het Van Vuuren die pakkies met groot sorg uitgestal, en die lokaal waar die versorgers hul geskenke ontvang het, was gevul met 'n feestelike, vreugdevolle atmosfeer.
Sy het elkeen se pakkie persoonlik oorhandig, met 'n boodskap van waardering aan elkeen. Vir die versorgers was dit 'n riem onder die hart.
Die geleentheid is ook bygewoon deur Paul Kruger van die Groenkloof-stigting, wat die versorgers spesiaal bedank het.
Hy het beklemtoon hoe belangrik hulle rol is in die groter Groenkloof-familie, en hoe hierdie simboliese gebaar die band tussen inwoners en die versorgingspan versterk.
Van links is Susan van Vuuren, Jolene Botha, Jesica Arnoldus, Christina Delo, Emerentia Mintoor, Paul Kruger (voorsitter van die Groenkloof-stigting), Maria Job, Caroline Korje en Marelize Demas. Voor is Aiden Job.
Twee versorgers Minre Jacobs en Denolene Freeks met hul geskenkies. Die pakkies is met groot sorg uitgestal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’