GEORGE NUUS - 'n Lang verwagte droom het onlangs vir die Legacy Centre in Denneoord waar geword toe hul terapiekamer volledig met professionele apparate toegerus kon word danksy Outeniqua Harriers-hardloper, Louis Massyn.
Die sentrum is 'n privaat, nie-winsgewende organisasie wat onderrig verskaf aan kinders met spesiale behoeftes en outisme en die terapiekamer speel 'n onontbeerlike rol in die kinders se sensoriese integrasie.
Fondse is 'n nimmereindigende uitdaging en 'n volledig toegeruste terapiekamer het die sentrum bly ontwyk - totdat die 74-jarige Massyn vanjaar op die toneel verskyn het.
Hy het in Junie die eerste persoon geword om sy 50ste Comrades te voltooi en het dié geleentheid en groot mylpaal in sy loopbaan gebruik om in samewerking met Legacy Centre bewusmaking oor die sentrum te skep en vir hulle geld in te samel.
Mariza van Deventer, stigter en hoof van die sentrum, het gesê die kamer is vir die nege jaar wat hulle bestaan al 'n droom. "Die vertrek was hier en hier was bietjie toerusting, maar niks so professioneel soos nou nie.
"Nou beskik dit oor apparate wat help met die kinders se vestibulêre stimulasie en propriosepsie, diepdrukmatte wat hulle kalmeer, 'n sensoriese tent waar hulle kan inkruip om die wêreld en klank uit te blok, gewigkomberse, gepaste beligting en nog baie meer. Ons is baie opgewonde oor wat dit vir die kinders gaan beteken."
Legacy Centre se stigter en hoof, Mariza van Deventer, saam met Louis Massyn in die terapiekamer.
By die amptelike opening van die terapiekamer op Maandag 15 September het die hardloper gesê hy is in sy skik dat hulle hul insamelingsdoelwit bereik het.
Massyn het van die sentrum bewus geraak tydens 'n fotosessie met die plaaslike fotograaf, Deidré Cloete, wat al agt jaar hulle fotografie doen. Hy het besluit dat dit die organisasie is waarheen die fondse moet gaan.
"Dis absoluut wonderlik dat die geld wat ons geïn het, so deeglik gebruik is om vir die kinders voorsiening te maak.
"'n Groot dankie aan almal wat bygedra en elkeen wat gehelp het op my pad na my 50ste Comrades," het Massyn gesê.
'n Knus hoekie.
'n Gedeelte van die inkomste uit verkope van sy biografie wat in Oktober bekendgestel word, sal ook aan die sentrum geskenk word.
Volgens Van Deventer sou die terapiekamer nie gerealiseer het as dit nie vir Massyn was nie.
"Ons is diep dankbaar vir wat Louis vir ons gedoen het. Met die geld wat ons jaarlikse gholfdag in, kon ons die dakplate en -balke en plafonne vervang, en die beligting doen. Louis se bydrae was die kersie op die koek."
Louis Massyn (links) en 'n hardloopmaat, Rhyno Smith, het 'n foto-uitbeelding van Massyn en Legacy Centre se verbintenis aan die sentrum se hoof, Mariza van Deventer oorhandig. Smith het Massyn tydens sy 50ste Comrades vergesel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’