Ons kinders sukkel. As ouer betree ek die era van leerlinglisensies saam met ons 17-jarige, en dit is 'n helse stryd. Ons woon in George, maar moes soos menigte ander noodgedwonge 'n plek in die Karoo bespreek - Ladismith - want anders is sussie al amper mondig voordat sy 'n toets kan skryf.
Eers was dit die drama met die boeke. Desember koop ons die K53-boek by 'n vooraanstaande boekwinkel, in die Garden Route Mall. Hulle rakke is volgepak met die goed.
Niemand spraak geen sprook oor die feit dat dié boeke nou nie meer nodig is nie. R215 later, en daar het hulle nog iemand met 'n slap riem gevang. Ek voel dis bedrog.
Nie by die verkeersdepartemente nie, nie by die boek-winkel nie - nêrens is daar 'n waarskuwing vir diegene wat nog nie per ongeluk 'n koerantberig raakgelees het, dat daar nou ander leesstof nodig is nie.
Ouers wat ook deur die meule loop praat met mekaar, netwerk oor die saak, en dis hoe ek uiteindelik hoor daar is manuskripte aanlyn wat afgelaai moet word.
Ma's deel die skakels en ons druk die vervlaks moeilik en swaar bewoorde departementele werksboeke uit. Genade.
Sy moet omtrent die hele boek met die hulp van ChatGTP deurgaan, want sy - en ek - verstaan meeste van die tyd nie wat die owerheid alles wil sê nie. Hierdie goed is glad nie lesersvriendelik nie!
Nou loop sy lesse by 'n omie om haar te help met ekstra, moeiliker vrae - nie die maklike goed wat op die App is nie (want ja, dit moet jy ook aflaai om te oefen), maar vrae wat hulle so tussenin gooi, net om seker te maak jy kom nie die toets die eerste, of die tweede, of die derde keer deur nie.
Wanneer kinders by die verkeersdepartement se deure inloop, hoor ek, smile die beamptes breed. "Wie van julle is hier vir die eerste keer? Toemaar, ons gaan julle nog baie sien…"
'n Ma wat onlangs deur die hele storie is, vra die volgende vraag: "Hoekom kan hulle nie hierdie werk omvat as 'n handboek vir hoërskoolleerders wat deel vorm van die kurrikulum nie? Hoekom kan dit nie in klaskamers deurgetrap word op 'n kindervriendelike manier nie? En hoekom word ons kinders so erg in die steek gelaat met hierdie baie belangrike saak?" Ek wil ook weet - hoekom?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’