OPINIE - Hoe gemaak as jou kind vir ’n Wes-Kaap-span gekies word, maar daar eenvoudig nie die fondse is om vir die toer te betaal nie?
Mossel Bay Advertiser het onlangs verskeie e-posse van ouers ontvang wat in presies hierdie situasie is: kinders wat uitstekend presteer in sport, maar wie se ouers nou desperaat hulp soek om die koste van komende toere te dek.
Dit strek van ouers in informele nedersettings wat ten spyte van groot uitdagings steeds ’n kind met uitsonderlike potensiaal ondersteun, tot middelklasgesinne wat eenvoudig nie op hierdie stadium duisende rande vir ’n netbal- of hokkietoer kan bybring nie.
Op sosiale media verskyn die een trotse plasing na die ander, met foto’s van die kinders en ’n nederige versoek vir enige bydrae om die koste van die toer te help dra.
Die een toer is Kaapstad toe, die volgende Boksburg toe, en die bankbesonderhede verskyn onderaan die plasings.
In ’n ander e-pos skryf ’n vriend van ’n gesin aan ons dat die ouers tans werkloos is, maar dat die kind een van slegs ’n handjievol spelers is wat vir die Wes-Kaapse netbalspan gekies is.
Dit is ’n uitsonderlike prestasie, maar dit skep die vraag: waar begin die lig aan die einde van die tonnel vir daardie huishouding?
Elke ouer beskryf hierdie geleenthede tereg as ’n droom wat vir hul kind waar geword het. Dit is ook nie iets wat sommer toevallig gebeur nie - hierdie leerders werk hard om uiteindelik in hierdie elite spanne gekies te word.
Maar hoe moet ouers met hierdie astronomiese kostes bybly?
Een so ’n toer vir ’n netbalkind beloop meer as R15 000. Dit sluit na wat ek kan verneem Wes-Kaap-klere, vervoer, verblyf en ander toerkostes in. Intussen styg lewenskoste aanhoudend - brandstof, kos, alles word elke maand duurder.
Niemand wil hul kinders van sulke geleenthede ontneem nie, maar dit kan ook eenvoudig nie so voortgaan nie. Dit is ook nie regverdig dat die kinders wat op dié vlak potensiaal het geleenthede misloop weens hul omstandighede nie.
Word ouers werklik vooraf behoorlik ingelig oor die volle koste? En word daar genoegsame pogings deur skole en provinsiale strukture aangewend om fondse vir hierdie toere in te samel?
R15 000 is in baie huishoudings meer as wat maandeliks inkom.
Dit is maklik om van die kantlyn af te sê die ouers moet eenvoudig dan nie hul kinders stuur nie. Maar enige ouer sal weet: ’n mens doen alles moontlik om geleenthede vir jou kind te skep.
As jy ’n ouer is wat gemaklik hierdie bedrae kan bekostig, is jy gelukkig, maar gegewe die hoeveelheid versoeke wat die Advertiser hieroor ontvang het, is dit vir die meerderheid eenvoudig buite bereik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’