Is ek die enigste een, maar vul ‘n kykie na die kalender jou ook met ‘n vreemde mistroostigheid?
Ek sê dit jaar in en jaar uit. “As ek teen 1 Desember nie my Kersinkopies gedoen het nie, maak ek leë skoenbokse op om onder die boom te sit dat dit net nie so kaal lyk nie.”
1 Desember? Kan dit sowaar al 1 Desember verbý wees? As die Kersfeesgevoel my nou al ooit verbygegaan het, dan is dit vanjaar. Watwou Black Friday, vir my voel dit soos Swart Kersfees. Boonop versprei die koronavirus in die Tuinroete tans veel vinniger as die feestydgees. Die kringetjie raak al hoe kleiner smaak dit my soos ‘n mens verneem van kennisse, dan vriende en selfs nabye familie wat met Covid-19 gediagnoseer word.
Vergete is die dae toe ons ons bekommer het oor onsinnighede. Soos of ons lywe darem fatsoenlik gaan lyk in ‘n baaibroek op een van Mosselbaai se Blouvlagstrande. Nou hoop ons minstens dat ons nie ons Kersete met ‘n handjievol familielede ontneem sal word en in isolasie ‘n Kersfeesklapper as enigste geselskap sal hoef te hê nie.
Ons wonder oor hoe sosiale afstand toegepas sal word in kruidenierswinkels tydens die seisoentyd. Vergeet van die gevreesde plakkie-tan. Hoe gaan ‘n man se bakkies dan gesonbrand lyk as jy die ganse Desember ‘n masker in die openbaar, wat mos nou strande ook insluit, moet dra?
En tog, is daar net één ding wat ek waarlik graag hierdie Kersfees sou wou hê. ‘n Vriendin verwoord dit vroeër die week.
“Ek wil net weer mense sien glimlag.” Toe sy dit sê, begin my oë sommer brand.
Want ek mis die wonderlike, woordelose, betekenisvolle gerief van ‘n glimlag intens. Dis ‘n wit vlaggie wat dadelik sê: “Ek kom in vrede.” Dis ‘n stukkie binnepret met ‘n geesgenoot wat sê: “Dink jy wat ek dink?” Dis ‘n troos wat sê: “Dit gaan okay wees.” Dis ‘n lofbetuiging wat sê: “Jy’t goed gedoen.” Dis ‘n uitnodiging wat sê: “Kom nader, kom gesels met my.”
Maar nader nooi, mag ons nie meer nie.
‘n Verdere glimlagdief die afgelope week was die spanning oor President Ramaphosa se aankondiging wat ‘n skadu oor ons ingeperkte feestydjolyt kom gooi het. Dis al swaar genoeg om asem te haal met die gesigmasker saam en die asem ophou vóór die Ramadrama * hom uitgespeel het, was ewenwel ‘n marteling.
‘n Ligpunt, vir nou, is dat die Tuinroete se pandemieparool*, anders as die Oos-Kaap s’n, darem verleng word. Solank ons seker by die reëls bly, soos wat die President tydens sy toespraak gesê het, sal die bevelsraad ons seker begenadig.
So, ons lot vir die seisoen is beklink, maar toegegee dit kon soveel erger gewees het. Dus, was maar die hande soos die Pres gevra het. Dalk kan ons nou in plaas van Happy Birthday twee keer sing terwyl ons skrop, dit met Jingle Bells vervang. En die belangrikste intussen, onthou om te glimlag – met die oë. Dis immers tog die vensters na jou siel, of hoe?
*Ramadrama en pandemieparool is van die nuutskeppinge wat tydens die Covid-19-pandemie in Afrikaans opgeduik het. Dit verwys onderskeidelik na die President se toespraak-uitsendings en die regulasies waarbinne landsburgers onder die bepalings van die nasionale ramptoestand mag optree.