Somer.
Dié woord proe soos yskoue chardonnay op jou tong. Dit ruik na vars kabeljou op die kole. Dit lyk soos die blink pad van die volmaan op die nat sand tydens ‘n laataand wandeling.
En dit klink soos die harmonieuse gesang van krieke.
Daardie op en wakker gekriek is pure somer. Dit laat jou sommer voel na tot ounag onder die sterre kuier en filosofeer oor dinge wat nooit eens voorbladnuus sal haal nie.
Maar o wee, laat daardie krieke selfs net één nou besluit om hulle serenade binnenshuis te bring.
"Dis nou die hoeveelste nag..." My vriendin se stem is so skril soos die krieke wat beide van ons uit die slaap hou. Die skool het pas begin en die drankverbod, was nog nie opgehef nie. In nie een van ons huise is daar keldervoorraad nie. Ons koop maar soos die geleentheid hom voordoen. Dus om onder die omstandighede ‘n knertsie te maak as teenvoeter vir slapeloosheid, was onmoontlik.
So lief as wat beide van ons die somer en sy naggeluide het, was hierdie operette een te veel. En so tref een van die Bybelse tien plae van Egipte beide van ons - tegelyk.
Saans as die son sak, gooi ek my luike oop na die warm dag om die soel aandlug te verwelkom. Dis dan wanneer die swart gevaar ook hulle opwagting maak. Nie met trompetgeskal of ‘n oorlogskreet nie. O nee, soos sluipmoordenaars kruip hulle geruisloos jou plek van veiligheid binne en hou hulle skuil tot jy in droomland is. Dan vermink hulle met ongenaakbare presisie jou nagrus.
Dis ook nou seker nie die heelal se skuld dat ek en my arme vriendin twee garsweduwees is en hoeka nie veel van plaagbeheer weet nie, maar nood leer bid.
“Kan jy ‘n bietjie harder praat? Ek sukkel om jou te hoor…daar is ‘n geraas op die lyn… Sein is weer in sy…”
My vriendin se stem klink asof sy ongeveer ‘n kilometer van haar foon af staan en skreepraat. In die agtergrond klink iets soos ‘n kombuisorkes op. Daar is ander stemme ook.
“Slaat hom dood…die verpesting! Keer, keer! Hy gaan in die trifle se jellie beland. Nee man…is jy gek! Daar slaan jy mis…pasop vir die Carol Boyes-beeld!”
Dwah! Krisssjjjjhhhhh!
Doodse stilte.
“Vriendin….ek bel jou terug.”
So eindig die gesprek. Ek was ‘n rukkie onseker watter een van die kinders vir die res van die jaar sou moes sakgeld inboet vir die skade. Maar toe my vriendin ‘n dag of wat later skakel, is daar anders as verwag weer vonkelwyn in haar stem.
“Jy sal dit nie glo nie! Raai wat?”
Na ‘n nag met kriekgesange is dit nog gans te vroeg na die min slaap om sukses in ‘n raai-raai-speletjies te behaal. Gelukkig is sy te opgewonde om te wag dat ek behoorlik ontwaak en sy spaar my die antwoord.
“Jy ken die ou gesegde, nood leer bid? Nou ja, ek bel maar net om vir jou te sê, dit ís toe waar.”
My brein is nog te beneweld om te probeer uitredeneer waarna sy verwys, toe sy gil: “Die antwoord op ‘n plaag, is nóg ‘n plaag!”
Die volgende oomblik hoor ek hoe my foon piep toe dit ‘n WhatsApp-boodskap ontvang. “Kyk op jou foon. Tooreloo!”
Met die een oog half toe, maak ek die boodskap oop. Maar beide is eensklaps oop toe ek sien waaroor die bohaai gaan. Voor my op die skermpie, pryk ‘n padda met ‘n selfvoldane grynslag. En die onderskrif lui: “Sien…só word daar steeds volgens Bybelse proporsies voorsien. Hier is my paddaprins! Vasbyt!”
Twee aande later lawe ek my kruietuintjie na ‘n warme dag. Die genot hiervan word versuur toe ‘n kriek se luide stem êrens opklink. Dadelik het ek behoorlik haat in my hart. Ek draai die kraan met wrewel toe, toe my oog iets in die emmer wat die oorskietwater opvang, gewaar.
Sowaar, daar swem ‘n padda twee keer die grootte van my vriendin se redder. Sy was toe reg. Inderdaad.
En met nuwe waardering vir die voedselketting kyk ek die padda vas in sy of haar uitpeuloë en grinnik: “Thank God for small mercies.”