Daar kom ‘n kruispad in jou lewe wanneer jy die geraamtes in jou kas seker maar moet konfronteer. Wel, ek is nou by daardie punt. Daar waar jy seker moet rekenskap gee van jou verlede.
Dis nou nie asof ek ‘n kriminele rekord het nie, maar die sondes van my prille jeug blyk my in te gehaal het. Deels het dit seker te doen met die feit dat daar 29 jaar tussen my en Oktober 1991 lê.
I can come clean now.
Maar die eintlike sondebok is soos gewoonlik sosiale media. Dís dikwels die plek waar ‘n ou se vuilwasgoedjies soms uit die mandjie tuimel en dan moet jy bontstaan om dit op te tel.
Toe ‘n ou skoolmaat kort voor my onlangse vakansietjie die storie van die vlagpaal oprakel, reken ek toe maar – dis tyd vir ‘n ontboeseming. ‘n Toepaslike beskrywing inderdaad, want die hoofrol in dié storie word deur ‘n bra vertolk. Nee moenie verkeerd verstaan nie. Dis nou nie die “bra” soos die slengwoord wat jongmense gebruik as hulle na ‘n vriend verwys nie.
O nee, ek praat nou van die ware Jakob.
Sien, ek was nog altyd ‘n bietjie stroom-op, maar ek weet ek sit nie die pot mis as dit by leierskap kom nie. Só reken ek toe dat ek verdien om hoofmeisie in matriek te wees. Bowendien, val die appel mos nie ver van die boom af nie en is my pa toe immers in my matriekjaar as burgemeester van ons dorp verkies. Én ek het my somme gemaak en besef dat so ‘n ou leierskapsbeursie vir univeristeit sal mos nou net handig te pas kom.
Maar dinge werk toe anders uit. Jy kan seker maar sê my stert was in ‘n krul oor die onregverdige uitslag. Dis nie dat ek ‘n swak verloorder is nie, maar ek het gekul gevoel, ontneem van dit wat my toekom.
Destyds het dit my langer gevat om vrede te maak met dinge wat ek nie kan verander nie. So bedink ek toe ‘n plan om my protes teen, myns insiens, ‘n ontoereikende leerlingraad-verkiesingstelsel te berde te bring. Wáár presies ek aan aan my plan gekom het weet nugter, want met my opvoeding skeel daar niks.
Die saak werk toe so. Elke dag van die week het ons as prefekte, eers die landsvlag en daarna die skoolvlag gehys. Op my laaste diensbeurt, hoeka ‘n Woensdag, is dit toe ook die prysuitdelingsaand. Boonop sou ons ons amp dié aand neerlê en die nuwe prefekte aangekondig word.
Daardie dag sou ek nie Hoërskool Willem Pretorius se vlag hys nie. O nee. Ek sou dit hys met ‘n skokpienk bra daaraan vasgespeld met my prefekbalkie.
So gesê, so gedaan.
Die wind waai selde in die Vrystaat, maar daardie oggend was dit asof op bestelling. Toe die skoolklok lui en elke sitvlak ‘n skoolbank tref, kom die wind op en die vlag, pienk aanhangsel en al, bol soos die seile van die befaamde spookskip, die Vlieënde Hollander.
Ek weet nie wie dit eerste gesien het nie, maar die nuus dat daar ‘n pienk ding wat soos ‘n bra lyk aan die vlagpaal wapper, het soos ‘n Vrystaatse veldbrand versprei.
Die interkom was besonder skril daardie oggend in die mees gevreesde onnie, Juffrou van Aswegen se klas.
"Cornelle Carstens...kan jy asseblief na die kantoor toe kom...Cornelle Carstens, kom asseblief na die kantoor." Askar sê niks. Haar gitswart oë blits net agter my aan tot by die klaskamer se deur waar die hoofseun my boonop inwag. "Kry ek nou nog begeleiding ook?" Sy mondhoeke roer nie eens vir 'n glimlag nie.
Die hoof, hoeka ‘n Hollander, is melkwit van woede. Hy sê sy grootste “probleem” in hierdie skool is “kinders soos ek wat uit goeie huise kom” en dan “sulke goed aanvang”. Hy is te kwaad om my te straf en sê dat ek die volgende dag weer kantoor toe moet kom.
Die res van die dag, praat meeste kinders agter hulle hande as ek verbykom of hulle word tjoepstil en staar net na my. Salig onbewus dat my ouers intussen ook die skoknuus ontvang het, wag ‘n yskoue ontvangs tuis op my. Dis tóé dat ek besef, dalk was alles glad nie so ‘n goeie idee gewees nie. Dis boonop maar net enkele dae ná my pa se verkiesing as burgemeester. Ek het voorwaar skande oor die huis gebring.
Soos toe ek regtig klein was en gemaak het as die wêreld vir my te warm raak, gaan klim ek binne-in my klerekas. My aweregse idee het toe heelwat meer reperkussies gehad as wat ek bereken het. Boonop was die prysuitdeling nog voorhande en sou ek ‘n paar keer op die verhoog moes gaan, maar ná my gefnuikte “protesaksie”, beslis tot my skaamte.
My pa se woorde daardie dag, treffend soos dit tóé was, bly my steeds by - dat protes ‘n goeie ding is, maar dat as ‘n mens die sisteem wil aanvat, daar maniere en “maniere” is om dit te doen.
Tot vandag toe nog doen gerugte oor dié gebeurtenis die ronde. Mense gis oor hoe die gewraakte bra nou eintlik daar aan die vlagpaal gekom het, hoe dit gelyk het, wie dit uiteindelik afgehaal en waar dit oral al sedertdien rondgeswerf het.
Maar soos hulle sê, wie wil nou ‘n goeie storie met die feite bederf?
Al wat ek sê, is dat dit waarskynlik my eerste behoorlike kennismaking was met die verskil tussen beroemd en berug wees.
Watter een ék is, dié moet julle maar self oor besluit.
- Oktober is borskankerbewusmakingsmaand.