GEORGE NUUS - Ek het lanklaas gehuil terwyl ek 'n storie skryf. En ek skryf nie gewoonlik oor my stories nie, vet weet, ek is 'n crime reporter, ek sal nooit ophou nie.
Maar dié een was vir my diep persoonlik. Nie net het ek vir Ranelle Terblanche (moenie haar naam vergeet nie) persoonlik geken nie, maar ons is deur baie van dieselfde ervarings in my tyd in die koshuis.
I get it. Vir sommige was die koshuislewe soos 'n Maasdorp-omnibus, hemel op aarde ... Maar ek was nie Kobie nie, en dié was nie fiksie nie.
Ek sal Ranelle Terblanche nooit ooit vergeet vir solank as wat ek lewe nie. Sy was sag, teruggetrokke en skaam ... net soos ek was (believe it). Ons het baie in gemeen gehad. Ons was lief vir godsdiens, die natuur, buite wees en diere.
Ons skoolrokke was ook te lank en ons sense for fashion het nie altyd ons peers se goedkeuring weggedra nie. My vel het soos die maan gelyk (vol kraters) en my hare was grasgroen oor die koperpype op die plaas. Imagine dit gou...
Ons was nie cool nie. En ons was geboelie. Nie altyd fisiek nie, maar baie verbaal en meestal emosioneel ... mét byname wat seermaak.
Maar wat maak jy? Jy is in 'n koshuis saam met 96 ander girls wat jy nie ken nie en in jou eerste twee jaar word jy in kamers van ses opgedeel ... whether you like the person next to you or not. Jy mag ook nét in die aand stort en hoop vir warm water as jy dalk bietjie laat was.
Flip, ek mag nie eers in stiltetyd in my dagboek geskryf het nie dan kry ek kombuisdiens. Dié [my dagboek] was ook 'n paar keer van my bedkassie afgesteel en gelees tot almal se vermaak buiten myne.
Niemand worry oor jou nie, want jou ma maak pottery, jou pa is 'n mechanic en julle kar is nie die beste nie. So jy word maar deel van die system ... nie die cool een nie.
Dit help nie jy kla nie, want niks gaan verander nie en die boelies gaan net kwaad word as jy hulle split. So eventually rebelleer jy... Maar daai is 'n storie vir 'n ander aand.
Anyway. Ek sal nooit die aand vergeet toe daar roll call by aandete gedoen word en Ranelle steek nie haar hand op nie. Dit was 'n Woensdag ... dorpdag. Dorpdag was amazing as jy vriende gehad het. Vir my was dit uitkoms en was meeste van die tyd, met my bergfiets, na my ouma toe.
Daardie aand was Ranelle nie daar nie. Sy was weg. Skoonveld. Toe dit later indring dat sy actually soos in weg, weg is, was almal redelik in skok. Maar nooit ooit sal ek die gesigte van dié vergeet wat haar geboelie het nie.
Tóé huil ons mos snot en trane, want waar is Ranelle? Krokodiltrane? Of miskien skaamkwaad? Verwyt? Ek weet nie. Maar seriously girls, julle kon beter gedoen het.
Ranelle is wreed verkrag en vermoor. Daaroor gaan ek nie detail gee nie, dis erg genoeg soos dit is.
Kruisig my, maar ek weet vir 'n feit, as sy nie geboelie was nie, as sy meer aanvaarding ervaar het, as sy net 'n maatjie gehad het, sou sy nooit dam toe gery het op haar eie nie en sou dit wat met haar gebeur het, nie haar storie gewees het nie. Sou haar pa nie 'n beroerte gekry het nie en haar sussie, broer en ma, sou 'n redelike normale lewe kon lei.
Ek het haar soms saam met my gevat as ek dorp toe gaan, en ek dink haar sussie het ook. As ek reg onthou was daar 'n paar dae wat ons drie saam gegaan het.
Maar dié dag was ek na my ouma toe ... ek wens ek het nie. Ek wens ek het haar saam met my gevat.
Ek voel ernstig sterk oor die boelie-issue en dit moet aangespreek word. ALLE skole het boelies, glo my, ek het elke oomblik op hoërskool met 'n diep passie gehaat. Nie oor die skool se vermoë nie, maar oor kinders wat ander kinders so diep wond dat die seerplek altyd rou sal wees ... vir ewig.
Rus in vrede Ranelle. Ek sal jou nooit vergeet nie.
Lees Ranelle se storie by www.georgeherald.com
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’