GEORGE NUUS - Haar grootste worsteling is om te dink wat haar kind moes deurmaak voor hulle haar vermoor het.
Die feit dat die laaste een van die drie wat Vera Terblanche se dogter Ranelle, in 1998 verkrag en vermoor het, hierdie maand moontlik voor die paroolraad gaan verskyn, het sy mee vrede gemaak.
Die departement van korrektiewe dienste het by navraag gesê hulle is nie in 'n posisie om sittings vir paroolverhore te bevestig nie.
"Die reg moet sy gang gaan. Ek koester nie 'n wrok teen hulle nie. Inteendeel, ek dink nie aan hulle nie. Ek worstel net met dit waardeur sy moes gaan. Sy het dit nie verdien nie."
Ranelle was 'n koshuisinwoner by Hoërskool Outeniqua se meisieskoshuis, Oompie Meyer, toe sy op Woensdag
11 November 1998 spoorloos verdwyn het toe sy tydens 'dorpdag' met haar rooi bergfiets by die Tuinroete-dam gaan ry het. Woensdae was 'n hoogtepunt in die koshuismeisies se week.
Nie net kon hulle dorp toe gaan saam met hulle vriendinne nie, maar dit was ook poedingdag. Almal het uitgesien na Woensdae, maar vir Ranelle, 'n stil en teruggetrokke meisie, was dorpdae anders.
Die trane lê vlak in Vera se oë. "Ek was nie bewus dat hulle haar geboelie het nie. Sy het my nooit vertel nie. Sy het net vir my gesê dat sy nie maatjies het nie en graag een sou wou hê," vertel sy.
Hoewel teen die koshuisreëls, het Ranelle op daardie dag na die dam gery. Sy was 'n kranige landloopatleet, lief vir die natuur, die buitelewe, diere en swem.
Op pad terug na die koshuis is sy deur Gert Jantjies (destyds in sy 20's), Freddie Fortuin (destyds 19) en 'n 15-jarige seun vasgekeer, van haar fiets beroof en herhaaldelik verkrag voor hulle haar vermoor het.
Haar liggaam is by 'n rivierwal op die ou Saasveldpad (Madiba-rylaan) afgegooi waar sy op 26 Augustus 1999 gevind is ná die drie beskuldigdes uitwysings gedoen het.
Hulle is in hegtenis geneem en in 2004 onder meer van moord, verkragting, menseroof en roof skuldig bevind.
Jantjies was glo uit op parool ten tyde van die voorval.
Hy is op al vier aanklagte skuldig bevind en tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis en kom glo binnekort vir sy paroolverhoor voor.
Fortuin en die minderjarige, wat reeds hulle vonnisse uitgedien het, het deurgaans skuld ontken en is onderskeidelik tot vier en 10 jaar tronkstraf gevonnis. Die minderjarige was 'n gr. 8-leerder en slegs 15 jaar en 11 maande oud toe die voorval plaasgevind het.
Hy is aan verkragting en roof skuldig bevind, terwyl Fortuin slegs aan menseroof skuldig bevind is.
Ranelle het 'n groot liefde vir diere gehad.
Wat jy in die donker doen...
"Die predikant het op 26 Augustus aan ons deur kom klop om te sê hulle het haar gekry. My man, Wilhelm, het altyd gesê hy sal nooit die hartseer oorleef nie. Agt en 'n half maande later is hy dood aan 'n beroerte," vertel Vera.
Ons sit in Vera se netjiese plaashuis waar sy deesdae alleen woon. Oor 'n koppie koffie wys sy my waar Ranelle se slaapkamer was.
Terwyl ou wonde oopgekrap word, vertel sy my in detail hoe haar jongste kind verkrag en vermoor is en hoe dit haar familie beïnvloed het, en ek besef - kriminele verwoes nie net die lewens van hul slagoffers nie.
"Hulle wou blykbaar net iemand se fiets steel, maar toe het hulle haar verkrag ook. Ná dit het hulle weggeloop, en haar net daar gelos. Hulle het besluit om terug te gaan om haar dood te maak, want hulle was bang sy gaan 'piemp'," vertel Vera.
"Toe hulle vir haar sê hulle gaan haar doodmaak, het sy gesê, 'Julle kan my maar doodmaak, want wat julle aan my gedoen het, het geen mens nog aan my gedoen nie'. Voor Gert die groot klip op haar kop gegooi het, het sy vir hom gevra of hy dan nie vir God ken nie. Hy het glo gehuiwer, maar dit nogtans gedoen. Daarna het hulle haar liggaam by die wal afgegooi."
Volgens Vera het die waarheid byna 'n jaar ná Ranelle se dood uitgekom toe die minderjarige beskuldigde saam met 'n vriend in George rondgestap het en op 'n plakkaat, waarop Ranelle as vermis aangedui word, afgekom het.
"Ons het die cherry doodgemaak," het hy glo gespog.
Kort daarna het dit aan die lig gekom wie verantwoordelik was vir Ranelle se grumoord en speurders van George het die drie in Proteapark in hegtenis geneem. Ranelle se rooi bergfiets is by 'n vulstasie buite Gqeberha, die destydse Port Elizabeth, gevind.
Haar pa het dit uitgeken, want hy moes vroeër een van die pedale vervang. Jantjies en sy makkers het dit glo vir R30 verkoop.
Ranelle toe sy op laerskool was.
'n Brief uit die verlede
Jare later, in 2017, het twee beamptes van korrektiewe dienste vir Vera 'n brief uit die tronk gebring.
Dit was van Gert Jantjies af. "Hy het my om vergifnis gevra.
"Gevra om hom te vergewe en dat hy jammer is oor wat gebeur het. Hy wou gehad het ek moet vir hom terugskryf en vir hom gaan kuier in die tronk, maar ek het nie kans gesien om hom in sy gesig te kyk nie."
Vera het wel 'n brief aan Jantjies gestuur waarin sy hom vergewe en sê dat sy geen wrok teen hom koester nie. "Ek voel net sleg oor die hel wat sy moes deurmaak voor sy gesterf het. Ek wens hom die beste vir sy toekoms. Ek weet dat die speurders Klippies Theron, George Marx, Alie du Plessis en ook Michael Hills met onvermoeide ywer aan die saak gewerk het en nooit moed opgegee het voordat die saak nie opgelos was nie. Daarvoor is ek diep dankbaar teenoor hulle."
Ranelle word oorleef deur haar ma, suster Jessica en broer Cobus.Ranelle as 'n baba.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’