Update
Hierdie artikel is opgedateer sedert publikasie.
RUGBY NUUS - Terwyl sosiale media gons met eise dat Bridgton van Oudtshoorn uit klubrugby in die SWD geskors en met 'n stewige boete gestraf word, sal almal tot minstens vanaand moet wag om te hoor watter sanksie die klub in die gesig staar ná 'n dissiplinêre verhoor.
Dit kan selfs langer vat, want verskeie verslae, verklarings, foto's en videobeeldmateriaal gaan aan die unie se dissiplinêre komitee voorgelê word.
Die tugstappe volg nadat 'n 19-jarige skeidsregter, wat verlede Saterdag die A-span-wedstryd tussen Bridgton en Evergreens op Die Plate in Oudtshoorn geblaas het, ná die eindfluitjie deur 'n groep woedende toeskouers aangeval is.
Hy het onder meer 'n hou teen die kop gekry en het na wat verneem word ligte harsingskudding opgedoen. Die jong blaser het 'n kriminele klag by die Oudtshoorn-polisie ingedien.
Verskeie toeskouers van Evergreens se voertuie en die taxi's waarmee spelers vervoer is, is ook met klippe gegooi.
George Herald verneem verklarings van die skeidsregter, sy assistente, die wedstrydassessor en toeskouers van Evergreens wat ook gedreig is, is vroeër die week ingedien.
Beide klubs het ook skriftelike verslae ingedien, terwyl foto's en beeldmateriaal van die aanval ook aan die dissiplinêre komitee voorgelê sal word.
Uitspraak voorbehou in glasgooi-voorval
Die dissiplinêre saak teen Groot-Brakrivier is Dinsdagaand deur die unie se dissiplinêre komitee aangehoor, maar uitspraak is voorbehou. Die klagte spruit uit die wedstryd teen Progress op 9 Augustus, toe 'n glas glo deur 'n Groot-Brakrivier-ondersteuner in die rigting van die skeidsregter gegooi is.
Die klub se regsverteenwoordiger moet betoogstukke teen Vrydag 22 Augustus om 12:00 indien, waarna die komitee op dieselfde dag of teen Maandag 25 Augustus uitspraak sal lewer.
Evergreens druk in doodsnikke
Die Bridgton-voorval is voorafgegaan ná 'n beweerde omstrede besluit in die laaste oomblikke van die wedstryd. Bridgton het 31-26 voorgeloop toe 'n Bridgton-speler die bal uitgeskop het nadat hy glo ingelig is dat speeltyd verstreke is.
Die skeidsregter het egter aangedui dat daar nog twee minute oor is en 'n lynstaan aan Evergreens toegeken, waarna hulle in die doodsnikke 'n drie gaan druk het.
Die drie is verdoel en die wedstryd het kort daarna 33-31 in Evergreens se guns geëindig.
Die twee klubs ding tans mee in die SWD Top 8 Superliga, met Evergreens boaan die punteleer en Bridgton in vierde plek.
'Hy voldoen aan al die vereistes'
Gavin Esau, voorsitter van die SWD-skeidsregtersvereniging, het die voorval sterk veroordeel. Hy sê die jong skeidsregter se toestand word gemoniteer. "Hy was Maandag weer by die dokter vir sy kopbesering. Ons en die unie bied ondersteuning, insluitend berading en ons sal hom op hierdie pad bystaan," het Esau gesê.
Hy het die skeidsregter se jong ouderdom verdedig: "Hy is nie 'n junior skeidsregter nie en daar is geen reël wat hom verhinder om te blaas nie.
"Baie skeidsregters begin vroeg, ek self op 13, en kyk na Sean Miller en Jason Jaftha. Hy is 'n belowende jong blaser wat reeds verskeie wedstryde in dié kompetisie hanteer het."
Ever spreek simpatie uit
Evergreens se voorsitter, Deon Stoffels, het sy klub se simpatie uitgespreek teenoor die skeidsregter en alle lede wat deur die insident geraak is. "Ons betreur die voorval ten sterkste en is dankbaar dat almal veilig huis toe kon keer," het hy gesê.
Hy het spesifiek een van hul spelers, Anton Smit geloof, wat sonder om aan sy eie veiligheid te dink, die jong skeidsregter beskerm het. "Soos beeldmateriaal wys, het hy soos 'n Trojaan voorgegaan en saam met die Bridgton-spelers 'n beskermingskring gevorm om orde en veiligheid te verseker," lees Stoffels se skrywe.
Bridgton tjoepstil
Uit die Bridgton-kamp is nog geen woord gerep nie. Hennie Baartman, die president van Bridgton, het aan Oudthoorn Courant, suster-koerant van George Herald, gesê hulle sal kommentaar lewer sodra die saak afgehandel is.
Die burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, het die voorval ook sterk veroordeel. Hy het onderneem om met wetstoepassingsowerhede, die Eden-sportraad en die unie saam te werk om soortgelyke insidente in die toekoms te voorkom.
Spelers van beide klubs omring die skeidsregter terwyl hulle deur die skare beur om hom na veiligheid te neem.
Skeidsregters vra sekuriteit
Esau sê hulle wil sien dat strenger sekuriteitsmaatreëls ingestel word om toegang tot die veld te beheer en dat veilige roetes vir wedstrydbeamptes verseker word.
Hulle versoek ook dat toe-skouers met heinings van die speelveld weggehou word en
zero-verdraagsaamheid geld wanneer skeidsregters aangeval word.
Nog versoeke sluit in dat klubs verantwoordelik gehou word vir veilige kleedkamers, aanwysing van 'n skakelbeampte en begeleiding van beamptes, terwyl glasbottels by wedstryde, asook drank, verbied word. Spelers, afrigters en onder-steuners moet verder opgevoed en herinner word aan respek en die gedragskode van die sport.
Verskeie skeidsregters in die streek het vandeesweek hierdie .... op hulle sosiale media geplaas om steun te werf om 'n einde te bring aan geweld teen skeidsregters, hetsy verbaal of fisies.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’